Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hoe beskou ons God? – Lukas 18:9-14 1. Ons het n klompie weke gelede by die Bybelstudie gesels rondom die reels wanneer dit kom by die lees van gelykenisse. Die reels wat ons moet nakom as ons gelykenisse reg wil interpreteer vir die tyd toe dit aan die 1ste eeuse gelowiges vertel is maar ook hoe ons dit van toepassing moet maak op ons omstandighede vandag. En Natuurlik dan die groot vraag elke keer: Wat vertel die gelykenis my van God? So kom ons hanteer hierdie gelykenis so vanoggend aan die hand van hierdie reels en u gaan vind dat ons dit vir ons ‘n boodskap het wat ver verby die gewone le. 2. So om hierdie gelykenis in ons Skriflesing vanoggend reg te verstaan, benodig ons eers ‘n bietjie agtergond inligting. En om dit te verkry gaan ons ‘n aantal vrae vra oor die rolspelers in die teks en die gebruike van daardie tyd waarna in die teks verwys word: Wie was die Tollenaars? Die Tollenaars was gewoonlik Jode wat verantwoordelik was vir die invordering van belasting vir die Romeinse owerheid. Maar die publiek het nooit geweet wat die tariewe was wat die Tollenaars met die Romeine ooreengekom het nie. Gevolglik het die Tollenaars ‘n kans gewaag en onwettige heffings op die belastings bygevoeg. Daarom is die Tollenaars as meelopers van die Romeinse owerheid beskou en as gevolg daarvan is hulle verag deur die Jode. So dis die Tollenaars Wie was die Fariseers? Nou die Fariseers was Jode wat hulle geloof nougeset probeer uitleef het. Die strengheid waarmee hulle die volk vermaan het, was deels daarvoor verantwoordelik dat hulle nie baie geliefd was nie. Soms het hulle baie hoë eise aan die mense gestel soos ons in Matt 22 sien. Die probleem was egter dat hulle hierdie hoë eise gestel het aan die mense maar dit self nie nagekom het nie. Al wanneer hulle aan hierdie hoë eise voldoen het was om te vertoon hoe vroom hulle was. Dit het gemaak dat die term Fariseer met skynheiligheid geassosieer is. Maar ons moet egter daarteen waak om die Fariseers eensydig te beoordeel en net kras op hulle te wees. Hulle was oor die algemeen die toegewyde deel van die volk en het deur die eeue heen die Joodse geloof in stand gehou. In moderne taal kan ons se hulle was die getroue kerkmense van hulle tyd. Dan lees ons in vers 12 van ons teks vanoggend dat die Fariseer se dat hy “twee keer per week vas.” Die Wet van Moses het slegs vereis het dat Israel op die Groot Versoensdag een keer per jaar moes vas (Lev 16). Hulle het totaal oorboord gegaan daarmee. Die Fariseers het geglo dat Moses op die tweede dag van die week (Maandag), op Sinaiberg geklim het en op die vyfde dag (Donderdag) weer afgekom het. Daarom het die Fariseers Maandae en Donderdae gevas. En dan lees ons laastens dat die Fariseer ook voorgehou het dat hy tiende van sy hele inkomste gee. So die Fariseers het stiptelik ‘n tiende van alles wat hulle gekry het aan God afgestaan soos die wet van Moses beveel het. Jesus vertel in Lukas 11 dat hulle tot in die fynste besonderhede gaan uitwerk het hoeveel kruie hulle het en dan ‘n 10de daarvan afgestaan het. Ongelukkig het hulle die belangrikste, nl die wet van die liefde, nie nagekom nie. 3. En vir ons om hierdie gelykenis reg te verstaan, MAW wat dit vir Jesus se gehoor beteken het maar ook wat dit vir ons vandag beteken, gaan ons ‘n paar vrae aan die gelykenis moet vra. Eerstens, met wie kan ons, ek en jy, in hierdie gelykenis identifiseer? 4. Ek dink een en almal van ons sal dadelik antwoord dat ons met die tollenaar identifiseer. Want dit klink mos reg. “Ek is die Tollenaar. Dankie tog, ek is beslis nie die Fariseer nie.” MAAR……sodra ons dit se word ons onmiddelik die Fariseer! By implikasie se ons mos dan nou “Dankie dat ek nie die Fariseer is nie. Dankie dat ek nie dink ek is beter as ander mense nie.” En dis presies wat die Fariseer gedoen het. Hy het God ook gedank dat hy nie die Tollenaar is nie. En as ons God dank dat ons nie die Fariseer is nie, word ons juis die Fariseer. 5. Hierdie gelykenis het ‘n oulike truuk aan hom. En dis hoe Jesus met die vertel van die gelykenis die mense eintlik in ‘n hoek vaspen. Jy kan maak wat jy wil en jy kan se wat jy wil, ons bly altyd die Fariseer in die verhaal. En ons IS inderdaad die Fariseer in die verhaal, want ons is die goeie kerkmense, net soos die Fariseers die goeie kerkmense in hulle tyd was. 6. Dan moet ons die vraag vra wie in die verhaal het verkeerd gedoen? Dadelik sal ons antwoord weereens wees “Die Fariseer”. Tog, as ons eerlik wil wees, moet ons erken dat die Fariseer eintlik niks verkeerd gedoen het nie. Om die waarheid te se, hy het eintlik baie voortreflik geleef. Hy het al die wette onderhou en niks verkeerd gedoen nie. 7. Die Fariseer verteenwoordig eintlik ons wat so mooi en voortreflik leef. Die kerkmense van vandag. Die vraag ontstaan dan nou of dit teen my tel as ek sulke mooi dinge doen. Mooi en opreg leef? Hoekom is God dan nie gelukkig met die een wat mooi dinge doen nie? Ons gaan daardie vraag later beantwoord. 8. So wie is dan die een wie se saak met God reg is? Dit is die tollenaar. Maar onthou wat het ons gese oor die tollenaar. Hulle was bedrieers wat mense uit hulle swaarverdienste inkomstes bedrieg het. Hulle was uitbuiters en is daarom deur die volk verag. So dan die vraag: Verkies God dan dat ek moet bedrieg soos die tollenaar bedrieg as ek die koninkryk van God wil ingaan? Moet ek dan wanpresteer soos die Tollenaar om deur God aanvaar te word? Sekerlik tog nie! 9. Sommige mense dink met die eerste lees van die gelykenis dat Jesus gese het die Tollenaar se saak met God is reg, nie omrede hy verkeerd gedoen het nie, maar wel omrede hy besef het dat hy sondig is. Dat hy sleg is voor God en dat hy God nodig het. Maar hier het ons nou weer ‘n ander probleem. Die redenasie is dan dat al wat jy moet doen is dan om jouself genoeg sleg maak en voor God te verkleineer, dan is God tevrede met jou. 10. Maar dan word ons natuurlik weer die Fariseer in die verhaal omrede ons dan dink God is tevrede met ons op grond van wat ons gedoen het. Ons beroep onsself dan op wat ons gedoen het. Ons moet onsself net genoeg verkleineer dan gaan God ons raaksien. 11. En dis hoe ons altyd hierdie gelykenis verstaan en beskou het. Ek moet net my eie kleinigheid insien en as ek dit verstaan dan is ek okay in God se oë. MAAR…..die fout wat ons maak is dat ons dink hierdie gelykenis handel oor hoe ons onsself moet beskou. Ons dink die verhaal gaan oor die hoogmoed van die Fariseer en hoe hy homself beskou het, teenoor hoe die tolenaar homself beskou het. Maar hierdie gelykenis gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor hoe ons God beskou en hoe ons oor God dink. 12. Soos die Fariseer wil ons vir God voorskryf hoe Hy moet oordeel. En dan wil ons sommer vir God voorskryf oor watter maatstawwe Hy moet gebruik wanneer Hy oordeel. Dis presies wat die Fariseer gedink het. Hy het ‘n God gesien wat aan sy eise moes voldoen en sy standaarde moes gebruik wanneer Hy oordeel oor mense. Die tollenaar aan die ander kant, het die oordeel van homself en die Fariseer ten volle aan God oorgelaat. Hy het besef dat dit nie die mens se taak is om te oordeel nie. Buitendien, ons maak foute as ons oordeel. 13. Die Fariseer het ‘n God gesien en geken wat reels en maatstawwe gebruik om te oordeel. Ek moes net genoeg van A, B en C doen, dan sou God my nie oordeel nie. Dis die God wat hy geken het. 14. Die tollenaar het ‘n God van genade en liefde gesien. Hy het liefde raakgesien as hy na God gekyk het. Hy het gesien en verstaan dat God ‘n Vader is wat liefhet op grond van wat sy Seun gedoen het. Die Fariseer daarenteen, het God beskou as ‘n beoordeelaar wat die hele tyd sit en kyk na ons gedrag en die hele tyd ons waarde bepaal. ‘n God wat net sit en kyk waar ons reg en verkeerd doen en ons gedurig sit en beoordeel. En dit is waar die Fariseer die fout gemaak het. 15. Onthou u hoe ons grootgeword het, of miskien hoe ons ons eie kinders met God of liewe Jesus gedreig het? Hy gaan jou straf. En kindertjies word groot en ons lees vir hulle uit die kinderbybel hoe God Israel se vyande in oorloe verslaan het en niemand verduidelik vir hulle hoekom dit so was nie. En hierdie persepsie van ‘n kwaai God wat net sit en kyk waar ons verkeerd doen, reg om ons te straf, neem al meer en meer toe in hulle gedagtes. En ons vorm ‘n tipiese Fariseer beeld van God. 16. Maar geliefdes, ons het nodig om te weet vanoggend dat God nie uit is op die straf nie. Wat het Hy dan op Golgota gedoen? Ons het al baie gese dat indien God ons moes straf vir ons sonde sou nie een van ons meer bestaan het nie. Want die loon van die sonde is die dood se Paulus. God is in die vergifnis besigheid. Die genade besigheid. Dis waarin Hy spesialiseer. 17. Ons leer vanoggend uit hierdie gelykenis dat ons kan rus in die liefde en genade van God. God verwag nie van ons om onsself minderwaardig te ag of onsself te moet degradeer of verneder om by Hom aanvaarbaar te wees nie. Ekself kan en hoef niks te doen om deur God liefgehe te word nie. Ons moet met nuwe oe na God kyk. Ons moet ‘n slag ‘n God van liefde raaksien. Want ons weet ook dat hierdie God met dieselfde oe van liefde na ons kyk. 18. Ons het nie nodig om vir God bang te wees nie, maar wel om Hom met die grootste eerbied en ontsag te nader. En dis die God wat ons aan mense daar buite moet bekendstel. Dis die God wat mense deur my en jou moet leer ken elke dag, in ons moet sien. Want Hy is ‘n God van liefde, nie een wat heeltyd rondkyk om te sien waar Hy ons kan straf as ons verkeerd doen nie. “Daar is dus geen veroordeling meer vir die wat in Christus Jesus is nie”(Rom 8:1). 19. Ja, Hy spreek niemand sonder meer net vry nie want Hy is ook regverdig, maar dis ‘n boodskap vir ‘n ander dag. Sien mense hierdie liefdevolle God wat die Tollenaar geken het in jou? Hoor mense van hierdie God wat hulle so lief het dat Hy alles opgeoffer het vir hulle – sy eie lewe!? Kom ons gaan dan en stel hulle aan Hom voor.