Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Wanneer jy op reis gaan deur ‘n vreemde land, of selfs hier deur ons mooi land, is een van die lekker dinge al die verrassings wat jy om elke hoek en draai vind. Mooi natuurtonele of riviere of ‘n pragtige koffiewinkel of padstal of iets dergeliks. 2. Die evangelie is soos om deur ʼn vreemde land te reis. Daar is verrassings om elke hoek en draai. Vra maar net vir die mense in die Bybelstudie. Maar waarskynlik een van die grootste verrassings op reis deur die evangelie is God se genade – nie net dat Hy ons genadig is nie, maar omdat sy genade so onbegryplik groot is. Ons teks vanoggend is een van die stilhouplekke op ons reis saam met God waar ons dit die duidelikste sien. 3. Maar aan die hand van ons Skrifteks vanoggend, kom ons vra die volgende vraag: Kan ons soveel sonde doen dat God se opgaartenks van genade sal leegloop? Of anders gestel: kan ons God ooit bankrot maak aan genade? Sekerlik is die antwoord op hierdie vrae ‘n besliste NOOIT! As daar een ding is waarvan God genoeg het, dan is dit genade. Al kan ʼn mens al die sonde wat gelowiges ooit gedoen het, aan een kant van die skaal pak, sal die kant met God se genade nog altyd swaarder bly weeg. 4. En hierdie verstaan van genade kan maklik veroorsaak dat ons kan begin dink oor genade soos diegene aan wie Paulus hierdie brief rig. Hierdie gelowiges in Rome, wat bestaan het uit ‘n mengelmoes van Jode en Griekse gelowiges was van mening dat hoe meer hulle sondig hoe meer gaan hulle God se genade beleef. En dis mos ‘n goeie ding, is dit nie? 5. Maar Paulus help hulle dadelik reg aan die begin van hoofstuk 6. Hy verduidelik dat al is daar so baie genade is dit nie goedkoop genade nie. Ons mag nooit dink dat ons maar net kan aanhou sondig omdat God maar net weer en weer genadig sal wees nie. Jy mag nooit God se genade goedkoop maak nie. Want dis die eerste teken dat jy nie die genade van God verstaan nie. 6. Vir die wat verstaan hoe kosbaar genade is, is daar ‘n oorvloed. Dit kan net nooit opraak nie. Ons kan nie met God se genade speel nie. “I asked God for a bike, but I know God doesn’t work that way. So I stole a bike and asked for forgiveness.” (Al Pacino). As dit ons siening van genade is verstaan ons nie wat God se genade is en hoekom Hy ons daarmee oorval nie. 7. Maar hier is ‘n spanning: As God dan vergewe, waarom moet ons na ‘n heilige lewe strewe? As die skuld reeds betaal is, hoekom moet ons aangaan om ‘n skoon, rein lewe voor Hom te lei? Weereens word hierdie spanning veroorsaak deur ‘n verwarde siening van genade. Genade is nie ‘n ding wat God uitdeel en as dit op is, is dit op nie. God gee Homself wanneer ons dit nie verdien nie. “8 Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom 5:8) 8. Genade is ‘n gawe, maar God is nie net die Gewer nie … Hy Homself is die Gawe. Ons moet verstaan dat genade nie IETS is nie, maar IEMAND! As ons met genade werk is ons besig met God self. As ek daaroor dink, dit bespreek, daarvoor bid, dit ontvang, dan is ek met God self besig. Genade is nie net ‘n karaktereienskap van God nie. Dis sy wese! 9. Maar hoekom word so min mense deur die genade van God verander? Ons ontvang genade, maar word nie daardeur verander nie. Hoekom nie? Want ons verstaan dit nie of ons het ‘n wanbegrip daarvan. Daar is vyf ernstige wanbegrippe oor genade: 1ste wanbegrip - Genade gee aan ons toestemming om te sondig. As God in sy genade sonde vergewe, waarom nog sukkel met reg lewe? Hierdie denke aanvaar dat dit God se werk is om ons sondes te vergewe. Geliefdes, genade is nie toestemming om te sondig nie – dit is die krag om sonde te oorwin. Heiligheid, ‘n skoon lewe voor God, is nie ‘n voorvereiste vir genade nie – dit is ‘n produk van genade. 2de wanbegrip - Genade vul die gapings. ”Doen jou bes en God doen die res.” Wel dis ‘n baie onbybelse siening. Hiervolgens doen ons self meeste van die harde werk en God vul net aan waar ons sukkel. Die probleem met hierdie siening is dat ons die impak van sonde totaal onderskat. Die Bybel sê nie dat ons mense is wat ‘n bietjie hulp nodig het om oor die wenstreep te kom nie – die Bybel sê dat ons geestelike lyke is wat nuwe lewe nodig het. As ons die Bybel se leer dat sonde elke deel van my lewe betrek aanvaar, sal ek besef ek het nie net so ‘n bietjie afronding nodig nie – genade is die begin, middel en einde van die Christen se lewe. Hoe eerliker jy oor sonde is, hoe meer sal jou hart bokspring oor genade. 3de wanbegrip - Genade is God wat sy standaarde laat val. Genade beteken nie dat God sy wet afwater nie, maar dat Hy sy Seun stuur om dit te vervul – iets wat die mens vantevore nie kon regkry nie. En nou, agv die evangelie van Christus en die werk van die HG kan die Christen ‘n lewe van liefde lei wat begin om in lyn te kom met die standaarde van God se wet. 4de wanbegrip - Genade staan teenoor poging. Nie waar nie. “Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning.” (Dallas Willard). Christene moet hard werk en streef daarna om Heilig te lewe, maar ons doen dit nie om genade te ontvang nie, maar omdat ons genade ontvang het. Ons word nie deur skuldgevoelens gemotiveer nie, maar uit dankbaarheid. En die evangelie is die grootste motiveringskrag in die wêreld. 5de wanbegrip - Genade is vir Goddelike mense. Hierdie siening berus op ‘n wanbegrip dat God van goeie mense hou en nie dat God se liefde mense goed maak nie. Die Bybel is nie die verhaal van God wat goeie mense soek nie, maar een van God wat sondaars vergewe. Genade is vir goddelose mense, maar genade maak hulle goddelik. 10. Daar is “vyande” van genade soos wat ons elke dag beleef: Trots.- Die grootste vyand van genade is dat ek dink dat ek dit nie nodig het nie. Ons weerstaan soms die gratis genade van God want ons wil voel ons het dit verdien. Ek wil krediet kry daarvoor. Ek glo ek is daarop geregtig. - Die oomblik wat ek dink dat ek genade verdien, verloor genade sy krag. As ek genade verstaan sal dit my altyd dankbaar maak. Selfbejammering. - Ek is nie goed genoeg om so ‘n gawe te ontvang nie. Ons hoor dikwels: “Ek weet dat God my kan vergewe, maar ek kan myself nie vergewe nie.” God is ‘n groter Verlosser as wat jy ‘n sondaar is. Vertrou Hom, glo Hom as Hy se sy genade is vir jou genoeg. – sy genade is voldoende. God sien nie sonde oor nie, Hy vergewe dit en verander sondaars. God se liefde ontmoet ons daar waar ons is, maar dit los ons nie daar nie 11. Daarom staan daar in Psalm 103:8-12: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. ”Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.” 12. God se genade is groter en meer as wat ek en jy kan indink, MAAR genade bring verantwoordelikheid. Ons kruip te maklik agter God se genade weg – soos ʼn kind wat nie self die bult uit wil loop nie, dink ons God moet ons die hele tyd dra. En ons is vinnig met verskonings waarom dit so moet wees. En weereens gebruik ons kerktaal om dit te regverdig: “Uit my eie uit is ek mos tot niks goeds instaat nie” of “ek ellendige mens,” soos die ou mense altyd gesê het. Dit is nie waar nie. Toe Hy jou gered het, het Hy jou nie in die ellende gelos nie. Nee, Hy het jou nuut gemaak. Hy het jou sy kind gemaak, ʼn koningskind. Jy is nie ‘n ellendige mens nie, maar koningskind. 13. Daarom verwag die Here ook van ons om soos koningskinders te leef. Matteus 15:16-20 leer ons dat heiligheid van binne kom. Dit ontstaan in jou hart en borrel dan in jou lewe uit. Jy en ek bepaal wat vloei uit ons lewens en wat nie – ʼn vermoë wat jy deur selfdissipline en deursettingsvermoë in jouself kweek. Die bewustelike besluite wat jy neem om die regte dinge te doen, nie lelike gedagtes te hê of lelik te praat nie, om ander iets te gun en nie jaloers of naywerig te wees nie word uit die beheerkamer van jou lewe bestuur. Jy moet daarvoor verantwoordelikheid neem. 14. God se genade verander ons – dit doen vir ons wat onsself nie kan doen nie: dit bring vergifnis en herstel ons verhouding met God. Maar as ons daardie genade gesmaak het, moet ons doen wat daardie genade van ons verwag – ons moet heilig leef. 15. As ons God se genade ontvang het, het ons ‘n nuwe verantwoordelikheid. ‘n Rein, skoon, lewe. Nie omrede ons genade daardeur probeer verdien nie, maar omrede dit die manier is wat ons ons dankbaarheid teenoor Hom bewys VIR genade. Dis hoe ons die evangelie uitdra sonder om te preek of biblebashing te doen. Deur vir ander te wys wat genade aan jou lewe gedoen het. Mag God ons daartoe help!