Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. As daar een ding is wat ek nou al geleer het, is dat dit nie altyd maklik is om sinvolle antwoorde op sekere vrae te gee nie. En kom ek noem u ‘n paar sulke vrae: Hoekom sterf my kind so jonk? Hoekom moet my vrou so ly? Wat wil God my leer deur dit waardeur ek nou gaan? Of, hoekom gebeur hierdie dinge nou juis met my? 2. Soms, geliefdes, is daar eenvoudig net nie ‘n antwoord op sekere vrae wat mense soms vra nie. Maar ook: ‘n mens kom op ‘n punt (en daar is baie redes voor) verby die stadium om die gewone soetsappige, maar dikwels niksseggende, antwoorde te gee soos: ‘Die Here pluk maar altyd die mooiste blom eerste’, ‘Die Here gee nie vir ‘n mens ‘n las wat jy nie kan dra nie’, ‘Darem is sy nou op ‘n beter plek waar die Here haar nodig het’, of, seker die bekendste: ‘Dit was die wil van die Here’. Of “Die Here het ‘n doel daarmee.” Wel, kon ‘n Almagtige God nie sy doel op ‘n ander manier bereik het as deur my kind te laat sterf nie? 3. Hierdie antwoorde, om vanoggend met u baie eerlik te wees, werk eenvoudig nie meer vir my nie. Want soms is daar ‘n las wat net te swaar is om te dra. Ook kan ‘n mens nie (as jy eerlik wil wees) vir ‘n kind wie se ma oorlede is met die storie van die mooiste blom probeer troos nie. En ek weet ook nie, broers en susters, of daar vir ‘n ouer ‘n beter plek is as om by jou kinders te wees nie. Meer nog: weet ons altyd wat die wil van die Here is, so asof ons as klein mensies kan besluit wat die Here wil en die Here nie wil nie? So miskien is dit beter as ‘n mens soms sê: ek weet nie. 4. Maar nou is dit ook so dat ‘n ‘ek weet nie’ antwoord vir iemand wat werklik met vrae, gebeure of die lewe worstel, nie veel beteken nie. Mense soek antwoorde. Mense in nood en twyfel soek nog meer na antwoorde. Nog meer: mense oor die algemeen (maar veral in nood) wil weet wat hulle moet bid. En, as ons dan nie weet wat God se wil in ‘n sekere situasie is nie, wat moet ons bid, waarvoor moet ons vra, of selfs, wat help dit dan nog om te bid? 5. Miskien, geliefdes, net miskien het iets van hierdie vrae in die dissipels se harte geleef toe hulle vir Jesus gevra het: Here, leer ons bid. En hoe antwoord Jesus? Hy doen twee dinge: Hy leer hulle die Onse Vader (waarvan ons in Lukas ‘n korter weergawe het). En Hy vertel hulle ‘n gelykenis waarmee Hy hulle wil aanspoor om te bid en na antwoorde te soek, al gebeur dit nie dadelik nie. 6. Dit is dan ook die invalshoek waaruit ons vanoggend saam na hierdie gelykenis wil kyk. Die gelykenis veronderstel ‘n situasie waarin iemand sê: Ek wonder of dit nog nodig is om na God te roep, want ek kry nie antwoorde nie. Ek wonder of dit die moeite werd is om te bid, want my gebed word nie verhoor nie. 7. Jesus vertel van ‘n man wat in die middel van die nag skielik gaste kry en dan drie brode gaan vra by ‘n buurman. Om hierdie gelykenis beter te verstaan, moet ons ‘n paar dinge in ag neem: Mense in die Bybelse tyd het baie waarde geheg aan gasvryheid. Dit was jou plig as gasheer om jou gaste te verwelkom en te versorg, al kom hulle laat in die aand by jou aan – iets wat gereeld gebeur het omdat mense soms lang afstande per voet moes aflê. 8. Jy kon nie in die Bybelse tyd sommer gou na ‘n winkel toe gegaan het om ‘n brood te koop nie. Daar was ook nie winkels wat 24 uur oop was nie. Verder is net genoeg brood vir elke dag se behoeftes gebak. Verder was die huise in die Bybelse tyd meestal maar baie klein. 9. Dit sou nie ongewoon wees dat oupa en ouma en pa en ma en al die kinders en sommer nog die honde en hoenders almal saam in net een vertrek slaap nie. Om almal wakker te maak om in die middel van die aand brode te probeer opspoor of selfs om dan brood te moet bak net omdat jou buurman onverwags gaste gekry het, was nogal ‘n groot guns om te vra. 10. Nou probeer Jesus nie met die vergelyking sê dat God enigsins soos ‘n nors, deur-die-slaap en onwillige buurman is nie. Hy wil vir ons sê dat die buurman uiteindelik tog aan die versoek sal voldoen omdat goeie maniere dit van hom verwag én as dit so is, hoeveel te meer sal God dan nie ook hoor as ons met ons nood na Hom toe kom nie. 11. Verder lees ons in vers 8: ‘Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.’ Die buurman weier sy nagtelike besoeker se versoek dus om twee redes nie: omdat hy ‘n vriend is, en omdat sy vriend aangehou het om te vra. En wanneer ons dit so verstaan is die boodskap van die gelykenis dus eintlik eenvoudig: bid met vrymoedigheid, want God is vriendeliker as ‘n vriend, en hou aan om met vrymoedigheid te bid, want God is baie vriendeliker, baie meer genadig, baie meer besorgd oor ons as wat enige mens is. 12. Vir mense in die tyd van Jesus moes hierdie woorde van Jesus wonderlik gewees het om te hoor. Hulle was gewoond daaraan om half met vrees en bewing tot God te nader, hulle het soveel respek gehad dat hulle nie eers God se Naam op hulle lippe wou neem as hulle bid nie – hulle het byvoorbeeld die Hebreeuse Jahwe telkens vervang met Elohim as hulle bid. Baiekeer het hulle nie self die vrymoedigheid gehad om tot God te nader nie en moes die priesters en hoëpriester dit namens hulle doen. 13. Maar Jesus sê: Moenie skaam wees om tot God te bid nie, Moenie skaam wees om aan te hou om tot God te bid nie. Dit lees ons ook in die volgende vers as Jesus sê: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word’. 14. Vra – soek – klop. Dit dui so half op meer en meer intensiteit, meer en meer herhaling. As jy soek, vra jy oor en oor, en as jy klop, klop jy mos nie net so een keer ‘tok’ nie, jy klop ‘tok-tok-tok’ tot dat daar vir jou oopgemaak word. Dit is asof Jesus hier sê dat daar sekere situasies is waar ‘n eenvoudige vraag genoeg is, maar dat ander situasies ‘n meer intense vraery vereis, ‘n meer herhaaldelike gevra. 15. En dink maar, broers en susters: as mens met meer intensiteit, met meer dringendheid herhaaldelik vra, dan loop mens nie die risiko dat mens maar net bid as jy in die knyp is nie – dit word ‘n leefwyse. Maar hierdie is ook die vers wat maak dat mense soveel vrae en soveel probleme het oor gebed. Want kyk wat sê Jesus: ‘Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” 16. En hier lê vir baie van ons die probleem. Maar ek het dan gevra, gesoek en geklop, maar daar was geen antwoord nie. Ons het so hard gebid, maar my ma, my pa, my kind is steeds oorlede. Daar het nie ‘n deur oopgegaan toe ek geklop het toe ek in die proses was om my werk te verloor nie – inteendeel, die deur het in my gesig toegeklap – ek sit nog steeds sonder werk. 17. Ons mag seker hierdie dinge sê, ‘n mens mag seker maar so voel – maar kom ons lees net ‘n bietjie verder. “Watter pa onder julle, as sy seun vir hom ‘n stukkie vis vra, sal vir hom ‘n slang gee? En watter pa sal vir sy seun, as hy vir hom ‘n eier vra, ‘n skerpioen gee?” Jesus gebruik hier ‘n pragtige beeld. Vis en ‘n eier is in wese kos, dit wat ons eet wat lewe gee. Daarteenoor is ‘n slang en skerpioen tekens van dood, want hulle kan doodmaak. So wat wil Jesus sê? Watter pa sal vir sy seun die dood gee as hy die lewe vra? Geen pa nie. Ook nie God nie. 18. Wat sê Jesus hier? Jy vra miskien een ding, en kry dalk iets anders. Nou nie presies wat jy wou gehad het nie. Maar wat kry jy? God gee die lewe. Hy gee vir jou wat Hy weet jy nodig het. Al verstaan ons dit nie. En kom ons erken maar, broers en susters: ons verstaan tog nie altyd nie. Ons verstaan soms miskien. Maar in die meeste gevalle verstaan ons glad nie. Maar ons kan hoor: God gee lewe, wat dit ook al in ons situasie mag beteken. Meer nog, sê Jesus, bo en behalwe alles gee Hy ons sy Gees. 19. En om hierdie woorde van Jesus te verstaan, sal dit dalk help as ons Romeine 8:26-27 bylees: “26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” 19 Kom ons gaan terug na waar ons vanoggend begin het. Hoekom sterf ‘n enkelouer van twee kinders aan breinkanker? Ek weet nie. En as sy sou vra: Hoe is dit moontlik dat dit ooit vir twee kinders ten goede kan meewerk dat hulle hulle ma verloor, sal ek weer sê : Ek weet nie. En as sy sou vra : Maar wat help dit om te bid as so baie van ons gebede nie verhoor word nie, sal ek weer moet sê: Ek weet nie. Die wêreld is gebroke. Ons lewe is soms so stukkend. Alles is soms so onregverdig. Daar is baie dinge oor die lewe, oor geloof, oor God wat ons net nie weet nie. Want ons kyk nog maar na ‘n raaisel in ‘n dowwe spieël. 20. Maar, broers en susters, ek sal ook sê: daar is ‘n paar dinge wat ek wel weet. Ek weet dat God sê dat ons moet bid. En dat Hy sal gee wat Hy weet wat ons nodig het, of wat nodig is om sinvol te kan lewe. Ek weet dat Jesus sê dat ons met vrymoedigheid, sonder skaamte kan bid, want God is vriendeliker as ‘n vriend. Ek weet dat Jesus sê dat ons moet aanhou om te bid. Daarom begin Hy die gelykenis van die lastige weduwee en regter in Luk 18 met die woorde: “Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.” Ek weet dat Jesus sê dat as ons bid, ons Vader in die hemel belowe dat Hy aan ons die Heilige Gees gee. Ek weet dat die Heilige Gees ons bystaan in ons swakheid as ons nie meer weet hoe of wat om te bid nie. Ek weet dat die Heilige Gees ons laat besef dat God ons liefhet en dat niks, maar niks ons van dié liefde kan skei nie. En ja: ek weet dat ek nie altyd weet nie. Maar ek weet ook dat God weet. Al verstaan ek dit nie altyd nie. 21. In Getsemane het die heiligste van alle bidders drie keer gevra dat ‘n bitter beker by Hom moet verbygaan. Dit het nie. Sedertdien kan ons maar die idee uit ons kop sit dat gebed ‘n soort onfeilbare wondermiddel is om te kry wat ons wil hê. Maar een van die grootste wonders van gebed is dat God daar teenwoordig is. Dat ons Iemand, die Skepper en Onderhouer van die ganse mensdom het wat vir ‘n oomblik by jou stilstaan en luister na wat jou hart breek. Ek wonder soms as ek na mense luister wat nie belangstel om God te dien nie, na wie toe neem hulle hul probleme? 22. Ek weet dat ons God lewe. Ek weet dat God ons ongelooflik liefhet. Ek weet dat ons God ons nooit sal versaak nie. Dat Hy altyd hoor as ons bid. Al weet ek niks anders nie. En ek weet: God sal ons die geloof gee om alles te oorkom. Want ek weet: Ons Here leef! Dit noem die Bybel geloof.