Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die verhaal van Kersfees is ‘n baie mooi verhaal. Dit is ‘n verhaal met so mooi, sagte en vredevolle atmosfeer, ‘n verhaal van ‘n babatjie in ‘n krip, van ‘n menigte van engele wat van vrede sing, ‘n byna sprokiesagtige verhaal van herders en sterrekykers, ‘n verhaal van drome, goud, wierook en mirre. Ja, dit is ‘n verhaal wat menige kind blinkoog laat, en soos dit seker ook gebeur het terwyl ons so pas oor die Kersgebeure gesing het, ‘n verhaal wat menigte volwassene met ‘n knop in die keel laat. 2. Die verhaal van Kersfees, geliefdes, het egter ook ‘n ander kant, ‘n skerp kant, ‘n harde kant, ‘n kant waarvan vrede nie deel is nie. In Lukas se weergawe van die Kersgebeure sien ons in Simeon se woorde aan Maria reeds ‘n voorbode hiervan. “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan”. Want die Kersverhaal is ook ‘n verhaal van kindermoord, ‘n verhaal van magtige menere soos Herodes, ‘n verhaal van gryp na mag in ‘n wêreld waarin kinders sterf en massas mense honger en dors lang afstande aflê net om getel te word. 3. Maar nog meer: die koms van hierdie kindjie na die wêreld, vertel Matteus ons, roep ‘n heftige reaksie by die wêreld op. In die figuur van Herodes kom die wereld teen God in opstand, en loop die wêreld die hemel storm. 4. En in hierdie proses ly juis die onskuldiges soms swaar. ‘n Kindjie word gebore, en ander kindertjies word die eerste martelare vir die evangelie van Christus. En later word Jesus ‘n offer juis vir sy vyande, en al verlaat God Hom nooit, kies Hy later self om Godverlate aan ‘n rowwe kruishout te hang. 5. En weereens moet ons die beelde wat ons gevorm het toe hierdie verhale kleintyd aan ons voorgelees is soms eenkant toe skuif en die Skrif ondersoek. Wanneer ons lees van die kindermoord kom die beelde van honderde klein babatjies op wat doodgemaak word. Meeste kommentare is dit eens dat in ‘n dorpie so klein soos Bethlehem en selfs met die omgewing ingereken soos Matteus dit stel, sou dit nie meer as 15 tot 20 babatjies gewees het wat gesterf het nie. Maar dit bly ‘n verskriklike waarheid. 6. Ja, dit is so: dit is tydens Kersfees lekkerder om na die sterre te kyk, die engele te hoor sing en die mooi kersliedere te sing as om te kyk na die wrede wêreld rondom ons. Dit is aangenamer om by te staan waar ‘n kind gebore word as om te moet lees en hoor dat kinders moes sterf. Maar dit is die lewe. Dit is die wêreld waarin u en ek leef. En juis dit wil Matteus vir ons, met sy verhaal van hierdie Kind, duidelik maak: Kersfees het ook ‘n skerp kant, ‘n harde kant, ‘n kruiskant. 7. Daarom, die hardheid waarmee Matteus sy Kersverhaal vertel, is nie maar net ‘n gier nie, dit is die werklikheid. Want Kersfees is ‘n sagte EN harde verhaal, ‘n verhaal van drome, maar ook ‘n verhaal van drome wat uitmekaar spat. Want die geskiedenis van God in Christus begin by ‘n krip, maar loop uit op ‘n kruis. Dit begin waar vreemdes van vêr kom om aan Hom hulde te bring, maar eindig waar sy eie mense – sommer naby aan Hom – of sê hulle ken Hom nie, of Hom verraai of Hom alleen aan ‘n kruis laat hang. 8. Dit begin waar ‘n kindjie in ‘n krip lê, maar gaan oor in skreeuende kinders wat met swaard en spies deurboor word. Dit vertel van ‘n vader en moeder wat bly is oor die geboorte van hul kind, maar van ander ouers wat moedeloos en huilend probeer keer en wie se angsgille die strate van Bethlehem vul. Ja, Kersfees uit die perspektief van ‘n kermende moeder is iets anders as die van ‘n blinkoogkind! 9. Om Kersfees te vier kan gevaarlik wees. Want ook vandag het Kersfees steeds ‘n skerp kant. Want wie hom/haar wil vereenselwig met die krip, moet hom/haar ook vereenselwig met die kruis. Want Kersfees bestaan uit krip en kruis, vrede en onvrede, lewe en dood, vertel Matteus ons hier. Of, kom ons sê dit anders: Kersfees bestaan uit vreugde en hartseer. 10. Want wie in die Jesuskind in die krip wil glo, moet ook bereid wees om in die Man van Nasaret, te glo. En wie graag na Jesus wil gaan daar waar hy onskuldig in ‘n krip lê, moet ook bereid wees om agter Hom aan te stap, ja, tot daar waar Hy aan ‘n kruis hang. Dit is alles of niks. Want wie Jesus as die Seun van God bely wanneer Hy in ‘n krip le, moet ook bely dat Hy die Seun van God is wanneer Hy aan die kruis hang. 11. In hfst 1:24 lees ons dat Josef wakker word nadat die engel die eerste keer in ‘n droom aan hom verskyn het. Hy het opgestaan en gedoen wat die engel hom beveel het en met Maria getrou. GEHOORSAAM SONDER VOORWAARDES!. In vers 13 van ons teks beveel die engel weer vir Josef in ‘n droom om met Maria en Jesus na Egipte te vlug. Vers 14 se dat hy in die nag opgestaan het en Maria en Jesus geneem het en na Egipte gevlug het. GEHOORSAAM SONDER VOORWAARDES! Vers 19 en 20 vertel dat die engel na die dood van Herodes weer aan Josef verskyn het en gese het dat hulle moet teruggaan na Israel. Weer staan Josef op en doen so. 12. En net soos in die geval van hulle vlug na Egipte was daar geen aanduiding van die engel van waar hulle gaan bly en werk om vir hulself te voorsien nie. Niks sekuriteit nie. Maar Josef is GEHOORSAAM SONDER VOORWAARDES! 13. En wie bely dat Jesus die Seun van God is, word self kinders van God. En wie kinders van God is, behoort aan God gehoorsaam te wees soos sy enigste Seun was. Gehoorsaam-heid wat eis dat ons onsself sal verloën, ons kruis opneem, en Hom waaragtig te volg. Al vra dit wat. Al vra dit hoeveel. Al vra dit alles. Al vra dit meer as alles. Wanneer ons die geboorte-verhaal lees sien ons die gehoorsaamheid van Josef uitstaan soos ‘n paal bo water. 14. Matteus draai nie doekies om wanneer hy ons van Jesus se geboorte vertel nie. U kan vra: maar hoe rym die gejubel en opgewondenheid van kinders rondom Kersfeesbome en oop geskenke met die angskrete van kinders in Bethlehem? Meer nog: hoe rym die boodskap en belofte van Kersfees, vrede op aarde en in alle mense ‘n welbehae, met die brutaliteit en verval en onvrede van die wêreld waarin ons leef? 15. Maar om dit te antwoord moet ons miskien kyk na die vrae wat Matteus vandag aan ons vra. 16. Matteus vra ‘n paar ander vrae aan ons. Matteus vra aan elkeen van ons vanoggend: wat het julle met Kersfees gaan doen? Is dit die uitwerking wat julle viering van Kersfees op julle wêreld het en gehad het? Matteus vra vanoggend: Kyk julle dalk elke Kersfees net na die sterre en luister na die engeleliedere, maar sien dan nie die wêreld waarin julle staan raak nie? Het julle net na die boodskap van vrede geluister, maar die onvrede in, by en rondom julle geïgnoreer? En Matteus vra: het julle nie dalk so vasgesteek by die krip, dat julle vergeet het daar is ‘n kruis – veral baie kruise van ander – in hierdie wêreld nie? Of: Julle was bly oor die gawe van hierdie Kindjie, maar het julle gaan uitleef wat hierdie Gawe van julle gevra het? 17. Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n dorpie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog erg gebombardeer is. Feitlik al die geboue is platgevee, die kerkie in die middel van die dorp was halfpad verwoes, en die helfte van die dorpie se inwoners is gedood. Die volgende dag het iemand die kerkklok, wat wonderbaarlik deur die bomme gespaar is, begin lui, en die mense wat kon het na die kerk gestroom. 18. Hier en daar het nog ‘n stukkende bank gestaan waarop gesit kon word. Sangbundeltjies is onder die puin uitgehaal, sommige verbrand, sommige smeulend. En in die puin, tussen die rook en dood, het die gemeente gesing. Hoekom? Want sien, dit was Kersfees…. Kersfees tussen die puin en dood, ‘n dag van dood en lewe, ‘n dag van hartseer en vreugde, ‘n dag van moedeloosheid en hoop. 19. Dit is hoe ons Kersfees behoort te vier. Deur na die sterre te kyk, maar nie die wrede wereld rondom ons te vergeet nie. Deur die Kindjie in die krip te onthou maar ook die kindertjies wat honger gaan slaap vanaand raak te sien. Deur kinderlaggies by oop geskenke te hoor, maar ook kindergeween sonder die basiese, kos en klere. Deur bly te wees oor hierdie kindjie in ‘n krip, maar ook te huil saam met die wat treur. Deur God te dank vir sy vredesgeskenk aan ons in Christus, maar ook om ‘n vredesgeskenke vir ander te wees. Al vra dit wat. 20. Want Kersfees het ‘n sagte kant, maar ook ‘n harde kant, ‘n gevaarlike kant wat ons nie kan ignorer nie. Kersfees bestaan uit ‘n krip, maar ook uit ‘n kruis. Die een kom nie sonder die ander nie. En die een kan nie aanvaar word sonder om die ander te gaan doen nie. Daarom: om Kersfees met oorgawe te vier, kan veeleisend wees, dit kan opofferend wees. Dit kan selfs gevaarlik wees!