Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Tweelinge is onafskeidbaar. Navorsing het bewys dat daar by identiese 2linge iets is wat “twintuition” genoem word. Iets wat nie identiese 2linge nie het nie. Dit beteken dat die een tweeling ‘n intuitiewe bewustheid het van wat die ander een dink, voel of selfs doen. Hoe dit werk is niemand seker van nie. Maar sedert bevrugting is hierdie twee in dieselfde plasenta en so kom hulle die wereld in, en vandaar is hulle onafskeidbaar. In die grootword jare sukkel die een soms om sonder die ander te wees. En wanneer mens aan hulle dink is dit moeilik om individueel aan hulle te dink. Kom ons laat die beeld daar want ons kom later terug daarnatoe. 2. Nou van al die verskriklike dinge wat met ‘n mens kan gebeur, is die verskriklikste seker dit: om die evangelie vir ‘n leeftyd lank te hoor, en dit tog nie te hoor nie; om van die boodskap van die blye evangelie van Jesus Christus te weet, maar eintlik ook nie; om die Woord van God vir ‘n miljoen kere jou oortrommels te laat tril, maar jou hartsnare nie een keer te laat roer nie. 3. So verskriklik, geliefdes, is hierdie moontlikheid, dat Jesus op ‘n keer hieroor ‘n baie harde woord gespreek het: ‘Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ‘n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word’(Lukas 12:48). MAW Jesus se dat aan ons wat die evangelie van Christus so baie gehoor het, dit verstaan het en ‘n verhouding met Hom beleef het, sal baie van verwag word en baie sal van ons geeis word. 4. Maar wat is die agtergrond, geliefdes, van hierdie woorde van Paulus hier in Romeine 12:1? Kom ek skets dit baie vinnig: in die eerste elf hoofstukke vertel Paulus aan die Romeine wat God alles gedoen het om ‘n sondige en verlore mens(dom) op te soek. Hoe God deur die gange van die geskiedenis, van Adam af, deur Moses en Abraham, deur die berge en dale van ons menswees gevolg het. Tot op Golgota. So groot was God se ontferming, dat Hy sy eie Seun geoffer het. 5. En nou is dit interessant om te sien hoe Paulus die gelowiges in Rome benader oor hierdie baie belangrike uitspraak. Hy begin deur te se : “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers…….”. Hou in gedagte dat dit die groot Damaskus Apostel is wat hier met die gemeente praat. Paulus kon hier sy outoriteit as apostel gebruik het om hulle ‘n opdrag hiertoe te gee. Maar ter wille van die liefde benader hy dit anders. MAAR, die gelowiges sou ook iets anders geweet het as hulle hierdie gelees het. 6. Want Paulus het by geleentheid in die brief aan die Korinte wat ook in Rome voorgelees is die volgende duidelik gemaak. “…..dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen”.: (2 Kor 5:20). Die gelowiges sou geweet het dat wanneer Paulus op ‘n liefdevolle wyse soos hier in hfst 12 ‘n beroep op hulle doen, dit beteken dat dit eintlik God is wat deur hom ‘n beroep op hulle doen. Wat hierna volg is ‘n duidelik opdrag van God self af! 7. Paulus se dan dat hy hierdie beroep op hulle doen op grond van die “……groot ontferming van God”. Wat is hierdie ontferming? Hierdie ontferming is dit wat hy aan hulle voorgehou het in die voorafgaande 11 hoofstukke van die brief. Daar is regdeur die boek van Romeine ‘n beklemtoning op die omtferming en genade van God oor mense. Die brief aan die Romeine in kort is “Omrede God se genade gratis aangebied word vir almal, moet gelowiges ‘n goddelike lewe lei, nie uit verdienste nie maar net omrede God genadig is.” 8. En wanneer Paulus se dat ons onsself (GRIEKS VERWYS NA “LIGGAME”) moet gee as lewende en heilige OFFERS, sinspeel hy natuurlik op die offeranders van die OT onder die wet. So is die dier wat as offer gebring is totaal op die altaar geplaas en enige aanspraak wat die eienaar op die dier kon he is daarmee aan God oorgegee. Die Griekse filosofie het met al hul afgode geglo dat die liggaam inherent boos was. Maar gelowiges het anders oor die liggaam gedink. 9. Paulus se bedoeling hier is dat gelowiges hulself in totaliteit, na liggaam, siel en gees aan God sal oorgee. Maar wanneer ons onsself gee as offers aan God, is daar twee vereistes: Eerstens moet dit ‘n lewende offer wees! Hoekom sal Paulus dit se? Almal met wie hy hier praat is tog lewend? 10. Hoekom sal hy spesifiek noem dat hulle liggame lewend moet wees? Hierdie is in teenstelling met die dooie offerandes wat die Jode en die heidene geoffer het. Die Grieks verwys hier na ‘n geestelike lewende offer. En hierdie offer word geestelik lewend gemaak deur God wat daarin woon se Gal 2:20. 11. Maar hierdie offer moet ook Heilig wees. Om Heilig te wees beteken om afgesonder te wees vir God se doeleindes. Om vir God bruikbaar te wees. Om aan Hom te behoort en om deur Hom gereinig te wees. In kort se Paulus dat ons die soort offers moet wees wat geestelik lewendig is, gereinig deur die bloed van Christus en bruikbaar vir God in alle omstandighede. Dis waarom vers 2 begin met die woorde “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie…..”. God soek lewende en heilige mense sodat Hy hulle kan verander sodat hulle nie aan die sondige, elke dag se wereld gelyk word nie! 12. Miskien moet ons almal, geliefdes, net vir ‘n keer weer duidelikheid oor een baie belangrike saak kry: die doel van die evangelie van Jesus Christus is om ons te verander. “Laat God julle verander……” se vers 2. Die dryfveer agter die ontferming van God is dat ons sal omkeer na die God van ontferming. Die Woord van God (saam met die Gees), werk in ons om ons te herskep na die beeld van Christus. 13. Daarom is daar tussen hoor en doen, tussen genade en gehoorsaamheid, geen skeiding aan te bring nie. Die een hoort by die ander, roep om die ander. Geloof en werke is ‘n identiese tweeling. Genade en gehoorsaamheid is ‘n identiese tweeling. ‘n Tweeling wat albei gebore word uit die liefde van, en liefde vir God. 14. Ongelukkig is dit egter so, broers en susters, dat dit al dikwels gebeur het dat die kerk, en gelowiges, en u en ek, sekere tye van ons lewe ‘n groter liefde vir een van hierdie tweelinge geopenbaar het, en so van een van hierdie tweelinge ‘n lieflingskind gemaak het, en van die ander een ‘n stiefkind gemaak het. 15. Wanneer gebeur dit? Hoe gebeur dit? Eintlik eenvoudig! So maklik plaas ons dikwels te veel klem op die genade ten koste van die gehoorsaamheid. Hoe lyk so ‘n lewe? Eintlik baie maklik om te beskryf. Mense wat die klem te swaar laat val op die genade, redeneer dikwels so: is dit nie wonderlik dat God se genade so groot is nie? Is dit nie wonderlik dat God so maklik sondes vergewe nie? Is dit nie wonderlik dat God soveel geduld met ons het nie.? Is dit nie wonderlik dat ek maar net hoef te glo, en dat bo alles, geloof nog boonop ‘n gawe, ‘n stuk genade, uit die hand van God is nie? Dis hoe ons dan redeneer. 16. Daarom is alles geoorloof. Ek kan eintlik doen en leef soos ek wil. Want God vergewe mos. En God is mos geduldig. So, al weet ek dat ek verkeerd doen en lewe, daar is nog baie tyd oor. Want God se genade is groot, sy liefde is onmeetbaar, en Hy vergewe mos sonde. Hy het immers self so gesê. 17. Maar ook die ander moontlikheid is waar, broers en susters. Daar waar ons van die gehoorsaamheid ‘n lieflingskind maak, en van die genade ‘n stiefkind. Wat gebeur dan? Dan word genade van die tafel gevee, en in die proses eintlik God ook. Dan neem ek die ereposisie in. Dan word die evangelie ‘n wet. Dan word godsdiens ‘n liefdelose aantal ‘moets’ en ‘moenies’, ‘n lang wettiese lys van ‘dit mag jy’ en ‘dit mag jy nie’. Met die gevolg: ons word vreugdelose en verstokte mense. Lysies beheer ons lewe. Lysies op papier. Papier wat nie emosie of liefde kan betoon nie. 18. Dit, terwyl die Woord ons baie duidelik leer: hierdie identiese tweeling — genade en gehoorsaamheid, geloof en werke, hoor en doen — is onskeibaar. Presies soos Paulus dit in ons teksvers stel: ‘En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: gee julleself aan God as lewendige en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is’. God se ontferming, ons wat ons self moet gee. God se genade, ons gehoorsaamheid. ‘n Onskeibare tweeling. 19. Waarop Paulus dan, in Romeine 12:1, sê: wie kan, as hy of sy dit alles gehoor het, wie kan, as God sy genade so sigbaar gemaak het, as God tot sy Seun geoffer het, nie bereid wees om self ‘n offer vir God te word nie? Wie kan, in die lig van die groot Offer, nie bereid wees om ‘n klein offer te wees en te word nie? ‘n Klein offer van dankbaarheid? Dit is die minimum wat God vra. 20. Maar dis ook die maksimum. Geloof en gehoorsaamheid. Hoor en doen. Geloof en werke. Dit is goed dat ek my kind kom doop. Want kyk , sê God, kom sien hier hoe lyk my genade. Maar gaan doen ook. Dit is gehoorsaamheid. Julle wat geroep is om te dien in die gemeente, dit is genade. Maar gaan doen wat God van julle vra daar in jou wyk. Dit is gehoorsaamheid. Veral julle aan wie baie gegee en baie toevertrou is. Van julle sal meer geëis word. 21. Vir ons almal, broers en susters, is die kerk se deure elke Sondag oop. En dit is baie belangrik dat ons by die oop deure van die kerk elke Sondag sal instap. Want hier hoor ons van God se genade. Maar dit is net so belangrik om by die kerk se deure uit te stap en buite te gaan leef tot eer van God. Dit is gehoorsaamheid. 22. En net so ondenkbaar as wat dit is, broers en susters, dat iemand op ‘n Sondag hier sal instap, en na die erediens net hier sal bly sit (tot volgende Sondag) en nie hier sal uitstap na die wêreld toe nie, net so ondenkbaar, sê Paulus, is dat genade kan gaan sonder gehoorsaamheid, of gehoorsaamheid sonder genade. 23. Is daar balans, broers en susters, in u en my lewe wat hierdie tweeling betref? As daar is, sal ons verander, sal ons steeds nuut en nuwer word, sal ons groei na die beeld van God. Want dit is tog die doel van die evangelie: om ons te herskep na die beeld van God. Dat hierdie idenstiese tweeling sigbaar sal word in ons lewens, in 2026, waar ons ookal is elke dag. Om so in gehoorsaamheid te leef dat die genade van God ook ‘n werklikheid kan word in ander mense se lewens.