Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons almal ken hierdie verhaal. Dis een van die bekendste gelykenisse wat Jesus ooit vertel het. En dis NB dat ons vanoggend kyk na die inligting wat die verhaal ons gee sodat ons ook die betekenis daarvan goed kan verstaan. Want wanneer ons net oor die gelykenis lees kan ons maklik dink dat die verhaal bloot gaan oor wie my naaste is. Ek bedoel, dis tog die vraag wat die wetgeleerde aan Jesus vra. En ons lees baie keer die gelykenis asof Jesus besig is om die man se vraag te beantwoord. Maar Jesus doen eintlik iets wat Hy so gereeld tydens sy bediening doen. Hy gee die vraesteller nie die antwoord wat hy wil hoor nie, maar wat hy NODIG het om te hoor. 2. Ons dink die doel van die gelykenis is om vir ons te wys wie kwalifiseer as ons naaste. Maar Jesus doen iets verrassends. Kom ons kyk…… 3. V 25 se vir ons dat ‘n Wetsgeleerde vir Jesus ‘n strikvraag wou vra. ‘n Skrifgeleerde. Die teks se dat hy ‘opgestaan’ het. Dit beteken hulle was in ‘n amptelike leersessie, of erediens soos ons dit ken. En dan vra hy vir Jesus ‘n vraag. En hierdie was nie sommer net ‘n vraag om Jesus se kennis te toets nie. Dit was ook nie ‘n vraag waar hy meer oor God wou leer of die Skrif beter te verstaan nie. Die term wat hier vir strikvraag gebruik word het regdeur die Skrif die betekenis van “to test with a view toward destruction.” 4. So die Skrifgeleerde se doel was nie om iets by Jesus te leer nie. Dit was om Jesus in die verleentheid te stel voor al hierdie sogenaamde NB manne in die sinagoge en in hierdie formele byeenkoms. En verder sien ons dat hy die antwoord op Jesus se vraag geken het. En dit beklemtoon juis die feit dat hy nie ‘n antwoord wou he nie, maar dat hy verskuilde motiewe gehad het. Lukas vertel dat die wetsgeleerde homself wou regverdig. Hy het dus nie net na die waarheid gesoek nie. Hy was op soek na ’n grens. Wie tel? Hoe ver moet liefde gaan? Waar kan my verantwoordelikheid eindig sodat ek steeds regverdig kan voel? 5. Die interessante is dat die man se vraag in Matteus is : ‘“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”. Matteus weet ons het vir Jode gskryf en daarom sou die vraag vir hulle NB wees. Want die wet was belangrik. Dieselfde gebeur in Markus: ‘“Wat is die heel grootste gebod?”. Markus het geskryf aan ‘n gemengde groep gelowiges in Rome waarvan die meeste Jode was. Die wet was NB. Maar Lukas skryf vir gelowiges vanuit die heidendom. Die wet is vir hulle glad nie NB nie. Daarom stel hy die vraag glad nie rondom die wet nie: ‘“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” 6. En hier begin Jesus se antwoord in die vorm van ‘n gelykenis. 7. ’n Man reis van Jerusalem na Jerigo. Dit was ’n gevaarlike pad, bekend vir rowers en geweld. Die geskiedskrywer Jerome het dit ‘die bloedige weg’ genoem. Dit was ongeveer 27km lank en die gevare was baie. Die man (die implikasie was dat dit ‘n mede-Jood was) word aangeval, beroof, kaal uitgetrek en halfdood gelos. Dan kom daar ’n priester verby. ’n Godsdienstige man. ’n Man wat die wet geken het. Iemand wat waarskynlik baie mooi gebede kon bid. Maar toe hy die beseerde man sien, loop hy verby aan die ander kant. 8. Daarna kom ’n Leviet verby. Nog ’n godsdienstige figuur. Hy kyk waarskynlik selfs na die man. Maar uiteindelik stap hy ook verby. 9. En dan kom die skok van Jesus se verhaal. ’n Samaritaan kom daar verby. Vir die Jode was Samaritane verag en gehaat. Hulle is as onrein en afvallig beskou. As Jesus vandag die gelykenis vertel het, sou Hy waarskynlik iemand gebruik het wat die mense as hul vyand sou sien. Maar juis hierdie Samaritaan word die held van die verhaal. 10. Die Samaritaan sien die beseerde man en kry hom innig jammer. Hy stop. Hy raak betrokke. Hy verbind die wonde. Hy sit die man op sy eie dier. Hy neem hom na ’n herberg. Hy betaal vir sy versorging. Hy belowe selfs om terug te kom. 11. Die verskil tussen die priester, die Leviet en die Samaritaan lê nie daarin dat die een die beseerde man raakgesien het en die ander nie. Almal het hom gesien. Die verskil lê in wat in hulle harte gebeur het toe hulle hom sien. 12. Die priester het waarskynlik gedink aan sy eie veiligheid. Die Leviet het moontlik gedink aan sy eie gerief of sy godsdienstige reinheid. Maar die Samaritaan het gedink aan die nood van die ander mens. 13. Wanneer Jesus dan aan die einde vra: “Wie van hierdie drie dink jy was ’n naaste vir hom wat onder die rowers verval het?” antwoord die skrifgeleerde: “Die een wat aan hom barmhartigheid bewys het.” Let op: Hy kan homself nie eers sover kry om die woord “Samaritaan” te sê nie. Maar hy verstaan die punt. 14. En dan se Jesus vir hom iets baie interessants. Hy antwoord nie die Skrifgeleerde deur te se : ‘Sien jy nou wie jou naaste is nie?’ Jesus antwoord op ‘n ander manier. Toe sê Jesus: “Gaan doen jy net so.” 15. En hier is wat ons soms mis wanneer ons hierdie gelykenis lees. Ons steek vas by die Skrifgeleerde se vraag van “Wie is my naaste” Ons lees dan die gelykenis asof Jesus besig is om hierdie vraag te antwoord. Maar Jesus se gelykenis wil nie vir die man vertel WIE sy naaste is nie. Dit wil vir die man vertel watse SOORT naaste hy moet gaan wees. As dit is wat Jesus besig was om te antwoord kon Hy die gelykenis gestop het toe die Samaritaan die man gehelp het. Maar die verhaal gaan aan. 16. Dit vertel alles wat die Samaritaan vir die man gedoen het. Waarom? Want Jesus is nie besig om die Skrifgeleerde se vraag van ‘Wie is my naaste?’ te antwoord nie. Jesus was besig om die vraag om te draai. Hy was besig om vir die Skrifgeleerde te se moenie bekommerd wees oor wie jou naaste is nie. Die vraag moet eerder wees: ‘Watse soort naaste is jy?’ 17. Geliefdes, dit is die vraag wat vanoggend ook aan ons gevra word: Watter soort naaste is jy vir ander? En hier lê die krag van Jesus se boodskap. Ware liefde vra nie: “Wie verdien my hulp?” nie. Want dan trek ons daarmee grense. Hierdie verdien dit en daardie verdien dit nie. Ware liefde vra: “Hoe kan ek barmhartigheid bewys?” Die koninkryk van God gaan nie oor minimum vereistes waaraan iemand moet voldoen alvorens hulle kwalifiseer om my naaste te wees nie. Dit gaan oor harte wat verander is deur genade. 18. Is ons soos die priester? Godsdienstig, maar onbetrokke? Is ons iemand wat Bybelverse ken, maar mense se pyn ignoreer? Dis moontlik om baie naby aan godsdiens te wees, maar ver van God se hart af. Of is ons soos die Leviet? Jy sien nood, maar jy bly op ’n veilige afstand. Jy voel dalk jammer, maar jy raak nie betrokke nie. Jy dink iemand anders sal help. Iemand anders sal gee. Iemand anders sal omgee. 19. Of is ons soos die Samaritaan? Is jy bereid om stil te hou wanneer ander verbyjaag? Is jy bereid om lief te hê sonder grense? Is jy bereid om mense raak te sien wat ander ignoreer? Meneer die Skrifgeleerde, vergeet WIE jou naaste is. Watse soort naaste is JY? 20. Ons leef in ’n wêreld waar mense stukkend langs die pad lê. Nie almal bloei fisies nie, maar baie bloei emosioneel, geestelik en sosiaal. Daar is mense wat deur die lewe beroof is van hoop. Daar is mense wat stukkend is van eensaamheid, depressie, armoede, verwerping en skuld. En dikwels is die grootste tragedie nie net hulle pyn nie, maar die feit dat so baie mense verbyloop. 21. Ons leef in ’n tyd waar selfs Christene maklik hard kan word. Ons raak gewoond aan nood. Ons sien soveel pyn dat ons ophou voel. Ons raak besig met ons eie lewens. Ons sê ons het nie tyd nie. Ons dink iemand anders sal help. Maar Jesus roep Sy kerk terug na barmhartigheid. Jesus het nie die wetsgeleerde geantwoord deur vir hom ’n lys te gee van mense wat kwalifiseer vir liefde nie. Hy het vir hom ’n spieël gegee. Want soms is die vraag: “Wie is my naaste?” eintlik ’n versteekte manier om te vra: “Wie kan ek vermy en tog myself gehoorsaam noem?” 22. Meer nog: Jesus wys uiteindelik in hierdie gelykenis op Homself. Want in baie opsigte is ons die man langs die pad. Sonde het ons beroof, gebreek en hulpeloos gelos. Godsdiens kon ons nie red nie. Die wet kon ons nie genees nie. Maar Jesus het gekom. Hy het nie verbygestap nie. Hy het Hom oor ons ontferm. Hy het ons wonde verbind met Sy genade. Hy het die prys vir ons herstel betaal aan die kruis. 23. En omdat Christus ons so liefgehad het, roep Hy ons nou om dieselfde liefde aan ander te bewys. 24. Die Christelike lewe gaan nie net daaroor om reg te glo nie; dit gaan ook daaroor om reg lief te hê. ’n Ware dissipel van Jesus herken mense se nood en reageer met barmhartigheid. Nie omdat dit gemaklik is nie. Nie omdat mense dit verdien nie. Maar omdat God se liefde in sy hart woon. 25. Barmhartigheid begin nie met die vraag: “Verdien hierdie persoon my hulp?” nie. Dit begin wanneer iemand se pyn jou gemak onderbreek en jy weier om net aan te beweeg. Die priester het posisie gehad en die Leviet het kennis gehad. Maar die Samaritaan het stilgehou. 26. En in die verhaal wat Jesus vertel het, het die een wat deur die Jode verag is, die wet beter verstaan as dié wat dit bestudeer het. Jesus het die vraag verander omdat liefde nooit bedoel was om gemeet te word aan hoe naby iemand aan jou is nie. Dit word sigbaar in wat jy doen wanneer lyding voor jou geplaas word. 27. Daarom moet ons vandag eerlik onsself ondersoek. Wanneer ons mense sien wat anders is as ons — anders in taal, kultuur, status of agtergrond — wat gebeur in ons harte? Wanneer ons iemand sien wat swaarkry, wat doen ons? Wanneer ons iemand sien wat geval het, kyk ons weg of buk ons af? 28. Jesus vra nie vandag vir ons: “Wie is jou naaste?” nie. Hy vra: “Is jy ‘n naaste” en “Watse soort naaste is jy?”. Mag God ons vergewe waar ons soos die priester en die Leviet geword het. Mag Hy ons harte sag maak. Mag Hy ons oë oopmaak vir die mense langs die pad. En mag Hy ons vul met die liefde van Christus, sodat ons mense van barmhartigheid sal wees. 29. Want aan die einde van die dag sal die wêreld nie net onthou wat die kerk gepreek het nie; hulle sal eerder onthou hoe die kerk omgegee het en liefgehad het.