Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Een van die grootste raaisels van die Verheerliking is hierdie: Waarom het Moses en Elia saam met Jesus verskyn? Waarom nie Abraham, die vader van die geloof nie? Waarom nie Dawid, Israel se grootste koning nie? Waarom nie Jesaja, wat so baie oor die komende Messias geprofeteer het nie? Waarom juis Moses en Elia? Die antwoord op hierdie vraag openbaar iets besonders oor die eenheid van die hele Bybel. 2. Niks wat op hierdie berg gebeur, gebeur toevallig nie. Ons teks se vir ons dat Jesus vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem het en teen ’n berg opgegaan het om te bid. Terwyl Jesus gebid het, het die voorkoms van sy gesig verander en sy klere het blink geword. En toe gebeur iets wat die dissipels nooit sou vergeet nie: Moses en Elia verskyn in heerlikheid en praat met Jesus. Kom ons klim vanoggend saam met hulle die berg uit. 3. Moses was Israel se groot wetgewer. Deur Moses het God sy volk by Sinai ontmoet. Deur Moses is die Tien Gebooie aan Israel gegee en die bepalings van die verbond is aan die volk bekend gemaak. Die eerste vyf boeke van die Bybel word daarom dikwels die Wet van Moses genoem, al is hulle eers in die tyd van die Ballingskap op skrif gestel. Wanneer Moses langs Jesus verskyn, verteenwoordig hy dus veel meer as net homself. Hy verteenwoordig die hele Wet van die OT. 4. Jesus het self gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” (Matteus 5:17). Dit is een van die belangrikste sleutels waarmee ons die Bybel moet lees. Die offers, die priesters, die reinigingsvoorskrifte, die verbond, die tabernakel en later die tempeldiens — alles was deel van ’n groter verhaal wat uiteindelik na Christus sou heenwys. 5. Die Wet het vir die mens gewys dat God heilig is. Dit het gewys dat sonde ernstig is. Dit het gewys dat die mens nie sommer op sy eie manier voor ’n heilige God kan verskyn nie. Maar die Wet kon nie die finale oplossing vir die mens se sonde wees nie. Daar moes Iemand kom wat die Wet volmaak sou vervul. En daardie Iemand was Jesus. Moses staan dus langs Jesus asof hy sê: “Alles wat God deur die Wet begin het, vind sy vervulling in Hom.” 6. En dan staan daar langs Moses ’n tweede persoon: Elia. Elia was een van Israel se grootste profete. Hy het die volk teruggeroep na God toe, teen afgodery opgestaan en die mag van God teenoor Baäl verkondig. Hy het God se volk herinner dat hulle aan die Here behoort. Elia verteenwoordig dus die Profete. 7. Die profete van die Ou Testament het oor eeue heen verkondig dat God sy volk nie sou verlaat nie. Hulle het van ’n komende Koning gepraat, van ’n Dienaar, van ’n Verlosser, van ’n nuwe verbond, van God se koninkryk, van herstel en van redding. Soms het hulle self waarskynlik nie die volle omvang verstaan van dit wat hulle verkondig het nie. Hulle het vooruit gekyk. Hulle het ’n werklikheid verkondig wat nog sou kom. En nou staan Elia op die berg voor die Een na wie die hele profetiese hoop gewys het. Die profeet staan voor die vervulling van die profesie. Dit is asof God deur hierdie toneel sê: “Julle hoef nie meer net vorentoe te kyk nie. Die Een na wie julle gewys het, is hier.” 8. Daarom is die uitdrukking “die Wet en die Profete” altyd gebruik as ’n manier waarop die Jode na die Skrif as geheel verwys het. Wanneer Moses en Elia dus saam met Jesus op die berg staan, sien ons simbolies iets geweldig belangrik: die Wet en die Profete staan langs Jesus. Hulle staan nie as mededingers langs Hom nie. Hulle staan langs Hom as getuies. Want die Wet was nooit die eindbestemming nie. Die Wet was deel van God se voorbereiding vir wat sou kom. 9. Dit is die wonder van die Verheerliking. Jesus is nie bloot nog ’n profeet in ’n lang ry van profete nie. Hy is nie bloot die volgende Moses nie. Hy is nie bloot die volgende Elia nie. Hy is die Een na wie Moses en Elia wys. Daarom is dit ook betekenisvol dat Moses en Elia nie begin om met Petrus te praat nie. Hulle praat met Jesus. Maar waaroor praat hulle met Hom? Lukas gee vir ons ’n merkwaardige besonderheid. Hy sê dat hulle “in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat het oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi”. 10. Die Griekse woord wat hier vir “uittog” gebruik word, is exodos. Dit is dieselfde woord waarvan ons die naam Eksodus kry. Dit is nie toevallig nie. Moses het ’n Eksodus gelei. Israel was in Egipte in slawerny en God het Moses geroep om sy volk uit daardie slawerny te lei. Deur die Rooisee het God hulle uit Egipte gebring en op pad na die beloofde land gestuur. Maar nou praat Moses met Jesus oor ’n nuwe Eksodus. 11. Jesus staan op die punt om in Jerusalem ’n groter verlossingswerk te volbring. Moses het Israel uit Egipte gelei. Jesus sou mense uit die slawerny van sonde lei. Moses het deur die Rooisee gegaan. Jesus sou deur die dood gaan en uit die graf opstaan. Moses het Israel na ’n aardse beloofde land gelei. Jesus bring sy volk na ’n ewige koninkryk. Die eerste Eksodus was ’n bevryding van fisiese slawerny. Die Eksodus wat Jesus in Jerusalem sou volbring, sou die diepste slawerny van die mens aanspreek: die slawerny van sonde en dood. 12. En let op Lukas se woord: Jesus sou hierdie Eksodus “in Jerusalem volbring”. Die berg van Verheerliking wys reeds na die kruis. Dit is amper asof God vir die dissipels ’n hemelse venster oopmaak sodat hulle vir ’n oomblik kan sien wie Jesus werklik is voordat hulle Hom in Jerusalem sien ly. Want die kruis sou maklik soos ’n nederlaag lyk. Jesus sou verwerp, geslaan, bespot en gekruisig word. Die dissipels sou Hom sien sterf. Maar op die berg sê God vooraf: Moenie deur die kruis mislei word nie. Hierdie is my Seun. Sy heerlikheid is groter as wat julle nou kan verstaan. Die kruis is nie die ongeluk wat Jesus se bediening ontspoor nie. Die kruis is deel van die Eksodus wat Hy kom volbring het. 13. Dan gebeur iets anders merkwaardigs. Petrus wil die oomblik vasvang. Hy sien drie figure en wil drie tente oprig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Maar die hemel laat nie toe dat Jesus in dieselfde kategorie as Moses en Elia geplaas word nie. ’n Wolk kom en oorskadu hulle. En uit die wolk kom die stem van God: “Dit is my Seun wat ek uitverkies het. Luister na Hom!” 14. Wat ’n verklaring! God sê nie: “Luister na Moses en Elia en ook na Jesus” nie. God sê: “Luister na Hom!” Moses het sy taak gehad. Elia het sy taak gehad. Die Wet het sy doel gedien. Die Profete het hulle doel gedien. Maar nou staan die Seun in die middel. Luister na Hom. Dit is die hart van die hele toneel. Die hart van die hele Christelike geloof. 15. Ons kan maklik van Jesus af wegkyk en begin om ons geloof rondom ander dinge te bou. Ons kan die kerk sentraal maak. Ons kan tradisie sentraal maak. Ons kan ons eie godsdienstige ervaring sentraal maak. Ons kan selfs die Bybel verkeerd gebruik deur die Bybel te lees sonder om die Een na wie die Bybel wys, te sien. Maar die doel van die Skrif is nie bloot dat ons baie inligting oor God moet hê nie. Die doel is dat ons Christus moet ontmoet. 16. Wanneer ons Genesis lees, moet ons uiteindelik God se groot verlossingsplan raaksien. In Eksodus moet ons die taal van verlossing raaksien wat uiteindelik in Christus sy volle betekenis kry. In die offers in Levitikus sien ons die erns van sonde, die nodigheid van versoening en uiteindelik die volmaakte offer van Christus. 17. Wanneer ons oor die priesters lees, sien ons die behoefte aan Iemand wat namens die mens voor God kan staan. — en in Jesus kry ons die volmaakte Hoëpriester. In die konings van Israel sien ons die voortdurende behoefte aan ’n ware, regverdige Koning. Wanneer ons oor Dawid lees, sien ons die belofte van ’n koninklike nageslag. Wanneer ons die Psalms lees, hoor ons die taal van hoop, lyding, aanbidding en verlossing wat uiteindelik sy volheid in Christus vind. 18. Jesaja en Jeremia vertel van die Dienaar wat sou ly en van ’n nuwe verbond. Wanneer ons Esegiël lees, hoor ons van herstel en ’n nuwe hart. Wanneer ons Daniël lees, hoor ons van die Seun van die mens en die ewige koninkryk. En wanneer ons by die Evangelies kom, hoef ons nie meer te vra: “Wie is hierdie Een na wie alles wys?” nie. Daar staan Hy. Jesus. Die hele verhaal kom by Hom bymekaar. 19. Daarom is die Verheerliking op die berg nie net ’n wonderlike gebeurtenis waarin Jesus se voorkoms verander nie. Dit is ook ’n Goddelike verklaring oor die betekenis van die Skrif. Moses en Elia staan daar om te sê: “Ons verhaal eindig nie by ons nie.” Die Wet sê: “Ek wys na Hom.” Die Profete sê: “Ons wys na Hom.” Die offers sê: “Ons wys na Hom.” Die priesterskap sê: “Ek wys na Hom.” Die tempel sê: “Ek wys na Hom.” Die koningskap sê: “Ek wys na Hom.” Die beloftes sê: “Ons wys na Hom.” 20. Dit is waarom ons nie die Ou Testament teenoor die Nuwe Testament moet plaas asof dit twee verskillende verhale is nie. Dit is een verhaal. Een God. Een verlossingsplan. Een groot beweging deur die geskiedenis. En een sentrale Persoon: Jesus Christus. 21. Die dissipels op die berg het dalk nog nie alles verstaan nie. Petrus wou tente bou. Hulle was oorweldig deur wat hulle gesien het. Maar later, ná die opstanding, sou hulle begin verstaan. Hulle sou terugkyk en besef: Ons het Hom op die berg gesien. Ons het Moses en Elia gesien. Ons het die wolk gesien. Ons het die stem gehoor. En die stem het gesê: “Dit is my Seun. Luister na Hom.” 22. Dit is uiteindelik die boodskap waarmee ons vandag huis toe moet gaan. Nie een van ‘n bewondering vir of Elia of die wonderwerk nie. Maar God se stem: Luister na Hom. Want die totale Skrif draai rondom Hom en sentreer in Hom. Hy is die vervulling van die Wet. Hy is die Een oor wie die Profete verkondig het. Hy is die Een na wie die beloftes wys. Hy is die ware Hoëpriester. Hy is die volmaakte Offer. Hy is die ware Tempel. Hy is die Seun van Dawid. Hy is die Koning. Hy is die Dienaar. Hy is die Lam. Hy is die Leeu van Juda. Hy is die Begin en die Einde. 23. Dit is waarom die Bybel uiteindelik nie ’n versameling losstaande verhale is nie. Dit is nie net ’n biblioteek van interessante mense en gebeurtenisse nie. Dit is die verhaal van God se verlossingswerk wat deur die eeue heen ontvou totdat dit sy klimaks in Jesus Christus bereik. Moses kom tot by Jesus. Elia kom tot by Jesus. Die Wet kom tot by Jesus. Die Profete kom tot by Jesus. Die offers kom tot by Jesus. Die beloftes kom tot by Jesus. Die hele verhaal kom tot by Jesus. 24. En op die berg van Verheerliking staan Moses en Elia langs Hom as twee groot getuies van hierdie waarheid. Hulle hoef nie meer die aandag te kry nie. Hulle hoef nie meer die middelpunt te wees nie. Die Vader maak dit duidelik: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!” 25. Van Genesis tot Openbaring beweeg die groot verhaal van die Skrif uiteindelik na hierdie Een toe. Die Wet het Hom vooruitgesien. Die Profete het Hom aangekondig. Die Evangelies het Hom geopenbaar. Die kruis het Hom as Verlosser bekend gemaak. Die opstanding het Hom as Here en Oorwinnaar bevestig. Die Kerk verkondig Hom. En die hele geskiedenis beweeg uiteindelik na die dag wanneer elke knie sal buig en elke tong sal erken dat Jesus Christus die Here is. 26. Daarom, wanneer ons die Bybel lees, laat ons nie net vra: “Wat beteken hierdie verhaal vir my?” nie. Kom ons vra ook: “Waar sien ek hier die groot verhaal van God se verlossing? Waar wys dit my na Christus? Wat leer dit my van Jesus?” Want die Bybel het baie mense in sy bladsye, maar net Een is die middelpunt. Baie profete het gepraat. Baie konings het geregeer. Baie priesters het offers gebring. Baie mense het gekom en gegaan. Maar uiteindelik staan daar Een in die middel van die verhaal: Jesus Christus. DIT GAAN ALLES OOR HOM!