Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 10:17 sê: “Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Op Bybelsondag herinner hierdie vers ons aan die besondere plek wat die Bybel in ons geloofslewe inneem. Ons geloof begin nie by ons vermoë om God te vind nie; dit begin by God wat Homself aan ons bekend maak. Hy praat met ons deur sy Woord. Dit is genade! God kon ons in ons verlorenheid gelos het, maar Hy het sy Woord aan ons gegee. Deur die verkondiging van die Bybelse boodskap hoor ons van God se liefde, sy vergifnis en uiteindelik van Jesus Christus, deur wie Hy ons red. Wanneer die Woord verkondig word, word God se uitnodiging tot geloof aan ons gebring. Mary Jones, ’n arm Walliese meisie, het as kind ’n diepe begeerte gehad om die Bybel te besit. Sy het jare lank geld gespaar en in 1800 ongeveer 42 kilometer gestap om haar eie Bybel te bekom. Haar verhaal het later ’n belangrike rol gespeel in die ontstaan van die British and Foreign Bible Society, wat gehelp het om die Bybel wyd beskikbaar te stel. Mary Jones se begeerte herinner ons daaraan hoe kosbaar God se Woord is. Ons het vandag die Bybel binne handbereik. Maar die vraag is: hoor ons nog die boodskap daarvan? Want Romeine 10:17 herinner ons: geloof kom deur die prediking. Daarom lees ons die Bybel, daarom verkondig ons dit, en daarom moet ons dit ook aan ander bekend maak. Want wanneer die Woord van God gehoor word, hoor mense die wonderlike boodskap van genade: dat God ons nie gee wat ons verdien nie, maar in Christus gee wat ons nooit self kon verdien nie. Lukas 4:16-30 – “Die vertaling wat niemand verwag nie” 1. Ons gelese gedeelte vertel ons van een van Jesus se eerste openbare optredes as volwasse man. Na sy versoeking deur die duiwel in die woestyn, vertel Lukas ons, keer Jesus terug na Galilea toe en gaan na Nasaret, waar Hy grootgeword het. Daar gekom, gaan Jesus, soos dit sy gebruik was, op die Sabbatdag na die sinagoge toe. 2. En kom ek sê eers so ’n ietsie meer oor die sinagoge in daardie tyd voor ek verder gaan, dat ons beter verstaan wat presies hier gebeur het. Daar was nie, soos in die geval van die tempel, by die sinagoge offers gebring nie. Die sinagoge, kan ons sê, was ’n plek van oordenking. Daar is uit beskikbare boekrolle gelees en dan is die gedeeltes wat gelees is, oordink. 3. By die tempel in Jerusalem kon alleenlik die priesters offers aan God bring, hulle was daar in beheer. By die sinagoge was dit egter nie so nie. By die sinagoge was daar nie priesters aan diens nie. Dit het enige man vrygestaan om deel te neem aan die “erediens” in die sinagoge, as ’n mens dit so kan noem. Die Rabbi’s wat daar bymekaargekom het sou iemand vra om voor te lees uit die boekrolle van die Ou Testament wat beskikbaar was, en dan het hy gaan sit op ’n klein platformpie en gesê wat dié gedeelte vir hom beteken het. 4. Dit is dan ook, vertel Lukas ons, wat daardie dag met Jesus gebeur het. Toe Hy opstaan om te lees, is die boek Jesaja aan Hom gegee, en Hy het dit oopgemaak by Jesaja 61 vers 2, ’n gedeelte wat baie bekend en baie gewild onder die Jode van daardie tyd was. Want hierDié gedeelte het vir hulle hoop gebring, want dit sê dat God vir hulle uitkoms sal bring; dit het hulle daaraan herinner dat God steeds by hulle was. En kom ek verduidelik: 5. Die gedeelte uit Jesaja speel af in ’n tyd toe die volk uit ballingskap in Babilon na Israel toe teruggekeer het. Al was hulle terug in hulle vaderland, het dit maar moeilik met hulle gegaan. Hulle het hard gewerk om die tempel te herbou, maar hulle het die heeltyd so ’n bietjie die wind van voor gekry. Tye was hard, kos was skaars, en die toekoms het maar donker gelyk. Die mense het begin moedeloos raak, en dit het vir hulle gevoel asof God hulle vergeet het. Hulle was naderhand so moedeloos dat hulle in sak en as gaan sit het, kompleet asof hulle getreur het oor iemand wat dood is. 6. Midde-in hierdie gebeure kom die profeet Jesaja en hy sê vir hulle dat God by hulle is, en dat Hy uitkoms sal bied. Hy sal hulle red, Hy sal hulle weer ’n magtige nasie maak. Dus ’n boodskap van hoop, van nuutgevonde vryheid, van verlossing. Dis ‘n boodskap wat regdeur die Bybel te vinde is: God wat se “Ek is by jou!”. • God se in Gen 26 aan Isak “Moenie bang wees nie, Ek is by jou”, • In Eks 3 se Hy aan Moses wat besig is om voor te berei om Israel uit te lei “Ek is by jou”, • vir Josua in hfst 1 se Hy “Ek is by jou”. • So ook in die NT in Matt 28: “Ek is by julle, al die dae…..”. • Ook in Hand 18 se God vir Paulus “Ek is by jou”. Dis die boodskap van Jes 61 gewees. En nou se Jesus vir hierdie godsdiensleiers dat hierdie boodskap, dat God by hulle is, is vandag vervul. 7. Die genadejaar waarvan die teks in Jesaja praat, verwys na die jubeljaar (wat elke 50ste jaar gevier is) waarin mense wat as gevolg van skuld as slawe verkoop is, vrygelaat moes word. ’n Mens kan verstaan hoekom juis hierdie Skrifgedeelte by die Jode in Jesus se tyd so gewild was: Hulle het swaargekry onder die onderdrukking van die Romeinse regering, hulle het gesmag na uitkoms, hulle sou graag weer ’n genadejaar, ’n jubeljaar wou beleef. ’n Genadejaar waarin hulle bevry sou word van vreemde oorheersing en uitbuiting. 8. Nadat Jesus uit die boekrol gelees het, het Hy dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee en gaan sit. Almal se oë was op Hom gerig. Hulle wou graag hoor wat Jesus oor dié Skrifgedeelte te sê het. En wat Jesus dan sê, is die heel laaste ding wat hulle ooit sou kon verwag! 9. “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Jy kon seker ’n speld hoor val in daardie sinagoge. Jesus los ’n spreekwoordelike bom onder die Jode. Hy sê vir hulle dat Hy die een is wat God se verlossing bring; die uitkoms wat God bring, kom deur Hom. Hy, Jesus, Hy is die vervulling van God se belofte van hoop. 10. Aanvanklik reageer die toehoorders heel positief, maar hoe meer Jesus met hulle praat, hoe meer raak hulle ontsteld, totdat ons uiteindelik lees: “Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.” 11. Met ander woorde, Jesus word nie aanvaar deur die mense tussen wie Hy grootgeword het nie. Hulle verwag iets meer, iets groter, iets wonderbaarliks wat hulle vir eens en vir altyd sou vrymaak van die onderdrukking van die Romeine. Maar nee, voor hulle staan ’n doodgewone jong man. Hulle ken Hom as Jesus, seun van Josef die timmerman wat daar onder in die dorpie bly. En nou kom hierdie Jesus vir hulle staan en vertel dat Hy die Messias, die langverwagte Verlosser is wat God hulle belowe het? Nee wat, wat te erg is, is te erg. Kom ons gaan gooi hierdie Godslasteraar by die naaste krans af, sê hulle vir mekaar. 12. Soos die Jode week vir week op die sabbat na die sinagoge gegaan het om daar vanuit die Woord van God onderrig te word, so kom ons ook nog vandag Sondag vir Sondag hier in die erediens bymekaar. Sondag vir Sondag loof ons die Here, ons hoor van God se genade en ons word bemoedig uit die Woord van God. 13. In kort: Elke Sondag beleef ons dat Jesus as’t ware langs ons kom sit en vir ons uit die Bybel lees van God se beloftes van uitkoms en verlossing. EN net so se Hy ook vir ons: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” 14. En nou is die vraag: Wat maak ons met hierdie Jesus? Wat maak ons met die Skrif wat ons hoor vervul is? Die godsdiensleiers in sy tuisdorp wou Hom by ‘n krans af gooi. Wat maak ons met Hom? 15. Kom ek probeer dit anders sê: Die storie word vertel van vier dominees wat gesit en stry het oor watter vertaling van die Bybel kwansuis die beste is. Die eerste dominee het gesê dat die Ou Vertaling, die 1933-vertaling, vir hom die beste is, want daar is so ’n waardige Bybelse taal wat in dié vertaling gebruik word. Die tweede dominee het gesê dat hy die Nuwe Vertaling, die 1983-vertaling, verkies want dit is nie ’n letterlike woord-vir-woord-vertaling nie – dié vertaling gee vir ’n mens eerder die betekenis van ’n gedeelte weer. Die derde dominee was heelwat jonger as die ander en het gesê dat hy ’n moderne weergawe soos Die Boodskap verkies, want die taal wat daarin gebruik word, spreek sy leefwêreld aan. 16. Toe hulle die vierde dominee vra watter vertaling van die Bybel hy die meeste van hou, het hy vir hulle gesê: “Die vertaling waarvan ek die meeste hou, is my pa se vertaling. Hy vertaal die woorde van die Bybel elke dag oor in sy dade en die manier waarop hy leef – en dit is die mees oortuigende vertaling wat ek ken.” 17. En is dit nie ook presies wat Jesus kom doen het nie? Hy het God se beloftes oorvertaal in optredes, Hy het die woorde van God se beloftes in die profesiee omgesit in dade. Hy sorg dat daar vir almal hoop en uitkoms en verlossing kom. Hy maak ons, wat die slawe was van die skuld van ons sondes, vry van hierdie skuld, Hy maak elke jaar vir ons ’n jubeljaar, elke dag ’n jubeldag, want ons kan weet, maak nie saak wat op ons pad kom nie, God is by ons, Hy laat ons nooit weer alleen nie, Hy is elke tree van elke dag saam met ons. Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul. 18. Hoe dan nou geliefdes, lyk ons vertaling van die Bybel? Is dit maar net woorde, bly dit maar net by goeie voornemens, leë beloftes? Of kry ons dit reg om die woorde van die Bybel oor te vertaal en om te sit in dade? Jesus het dit vir ons kom doen. En dit is nou ons beurt om elke dag ’n stuk vertaling te doen, om die woorde van die Bybel om te sit in dade. 19. Geliefdes, hierdie is Bybelmaand in ons gemeente. Ons vier die Woord van God. Ons is dankbaar vir die Bybel wat ons kan lees, bestudeer, verkondig en in ons eie taal kan verstaan. Maar die Bybel is nooit bedoel om net op ’n boekrak te staan nie. Dit is nie bedoel om net op ’n Sondag oopgemaak te word nie. Dit is nie bedoel om net in ons hande te wees nie. Dit moet in ons harte wees – en vanuit ons harte moet dit sigbaar word in ons hande, ons voete, ons monde en ons optrede elke dag. 20. Die wêreld rondom ons het nie net meer mense nodig wat die Bybel kan aanhaal nie. Die wêreld het mense nodig wat die Bybel kan uitleef. Wanneer iemand alleen is, hartseer is, honger is, geval het, wanneer iemand jou seergemaak het of jou nodig het, maak die Bybel sigbaar deur langs hom of haar te gaan sit, saam te huil, brood te gee, te vergewe, beskikbaar te wees. 21. Want dit is presies wat Jesus in Nasaret gedoen het. Hy het die boekrol van Jesaja oopgemaak en gelees: “Die Gees van die Here is op My...” En toe sê Hy: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Jesus het die Woord van God sigbaar gemaak. Hy het dit kom leef. En dan sê Jesus later vir sy kerk: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.” Met ander woorde: Nou is dit ons beurt. 22. Ons is God se lewende Bybels wat die wêreld lees. Mense rondom ons behoort iets van God se liefde te kan “lees” wanneer hulle na ons kyk. Hulle behoort iets van sy genade te kan raaksien in hoe ons optree. Hulle behoort iets van sy vergifnis te ervaar in hoe ons ander behandel. Hulle behoort iets van Christus te sien in hoe ons leef. 23. Miskien is die belangrikste vraag wat ons in hierdie Bybelmaand kan vra, daarom nie: “Hoeveel van die Bybel ken ek?” nie. Die vraag is: “Hoeveel van die Bybel kan ander mense in my lewe lees?” 24. Kan jou gesin, jou kinders, die bure, jou kollegas, iemand wat alle hoop verloor het. Kan hulle die Bybel in jou optrede lees? Dit is ons lewenslange vertalingsprojek. Elke dag kry ons ’n nuwe geleentheid om ’n Bybelvers te vertaal. Nie van Grieks na Afrikaans nie. Nie van Hebreeus na Engels nie. Maar van God se Woord na ons wêreld. Van woorde na dade. Van die Boek na die straat. Van die kerkgebou na die huis, die werkplek, die winkel, die sportveld en elke plek waarheen God ons stuur. En daarom, geliefdes, kom ons maak ’n besluit hierdie maand waarin ons dankbaar is vir die Woord van God. Kom ons lees die Bybel – maar kom ons leef dit ook.