Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Job 1 – Wanneer die Hemel stil bly 1. Een van die moeilikste vrae wat ’n mens ooit kan vra, is: Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? Dit is nie bloot ’n akademiese of teologiese vraag wat in ’n klaskamer bespreek word nie. Dit is ’n vraag wat mense vra wanneer hulle in ’n hospitaal sit en wag vir ’n uitslag. Dit is ’n vraag wat ’n ouer vra wanneer hulle ‘n kind begrawe. 2. Dit is ’n vraag wat iemand vra wanneer ’n huwelik onverwags verbrokkel, wanneer ’n mens jou werk verloor, wanneer siekte jou liggaam begin afbreek of wanneer die een tragedie ná die ander oor jou lewe spoel. Dit is veral ’n moeilike vraag wanneer die persoon wat ly, juis iemand is wat probeer om God te dien en reg te leef. Dan kom die vraag baie maklik: “Here, waarom? Ek het U probeer dien. Ek het probeer om reg te leef. Waarom gebeur dit met my?” 3. Agter hierdie vraag lê dikwels ’n aanname waarvan ons nie eers altyd bewus is nie. Ons dink dat daar ’n soort geestelike ooreenkoms tussen God en die mens bestaan: as ek ’n goeie mens is, as ek God dien, as ek bid, as ek getrou is, behoort God my teen slegte dinge te beskerm. Ons verwag dat gehoorsaamheid aan God op een of ander manier ’n skild rondom ons behoort te vorm. Maar die Bybel maak dit baie duidelik dat hierdie eenvoudige formule nie werk nie. Die Bybel leer ons nie dat goeie mense nooit slegte dinge sal ervaar nie. Trouens, die Bybel is vol verhale van mense wat God getrou gedien het en tog diep gely het. 4. Een van die duidelikste voorbeelde is Job. Job 1 begin deur hom aan ons voor te stel as ’n opregte en regverdige man wat God dien. Hy is nie iemand wat doelbewus teen God in opstand is nie. Hy is nie ’n goddelose mens wat nou uiteindelik die gevolge van sy dade ontvang nie. Tog verloor Job amper alles. Sy besittings word vernietig, sy kinders sterf en sy gesondheid word ernstig aangetas. Wat hierdie verhaal so kragtig maak, is dat ons as lesers iets weet wat Job nie weet nie. Ons kry ’n kyk agter die skerms van die verhaal, maar Job kry nie daardie inligting nie. Hy moet deur die lyding gaan sonder om te weet waarom dit met hom gebeur. 5. Dit is juis waar die boek Job ons met ’n belangrike waarheid konfronteer. Ons kan nie altyd ’n direkte verband trek tussen iemand se lyding en iets wat daardie persoon verkeerd gedoen het nie. Job se vriende probeer dit wel doen. Hulle redeneer dat indien Job ly, daar noodwendig ’n rede daarvoor moet wees. Volgens hulle eenvoudige logika moet Job iets gedoen het wat God kwaad gemaak het. As Job net sy sonde bely, sal alles weer regkom. Hulle probeer dus vir Job ’n verduideliking gee wat vir hulle die wêreld verstaanbaar maak: goeie mense word geseën en slegte mense word gestraf. 6. Maar die probleem is dat Job se vriende verkeerd is. Aan die einde van die boek maak God dit baie duidelik dat hulle Hom nie reg voorgestel het nie. Hulle het probeer om die misterie van lyding met ’n eenvoudige formule te verklaar. Hulle wou vir Job ’n antwoord gee wat hulle self nie gehad het nie. En miskien doen ons dit vandag nog. 7. Wanneer iemand siek word, wil ons weet waarom. Wanneer iemand deur ’n tragedie gaan, wil ons ’n rede hê. Wanneer ’n gesin deur iets verskrikliks gaan, wil ons die gebeurtenis in ’n raamwerk plaas wat dit vir ons verstaanbaar maak. Dan sê ons maklik: “Miskien het God hom hierdeur gestraf.” Of: “Miskien het God haar iets probeer leer.” Of: “Miskien het God ’n spesifieke doel met hierdie tragedie.” Die probleem is nie dat God nooit iets uit moeilike omstandighede kan voortbring nie. Die probleem is wanneer ons voorgee dat ons presies weet waarom ’n bepaalde tragedie gebeur. 8. Adrio König het baie oor hierdie probleem nagedink. Sy teologie van lyding en God se voorsienigheid probeer juis wegbeweeg van die gedagte dat elke enkele gebeurtenis in die wêreld, ook die mees verskriklike gebeure, eenvoudig as ’n direkte besluit van God beskryf moet word. König neem die werklikheid van lyding ernstig op en worstel met die vraag hoe ons God se goedheid en liefde kan bely terwyl ons terselfdertyd leef in ’n wêreld waarin daar soveel sinlose en vernietigende lyding is. En hy kom tot die slotsom dat ons nie elke ramp, siekte, ongeluk of tragedie eenvoudig aan God kan toeskryf asof ons God se geheime bedoeling daarmee ken nie. 9. Om te sê dat God regeer, beteken nie noodwendig dat ons elke gebeurtenis moet beskryf as iets wat God direk veroorsaak het nie. Wanneer ’n kind sterf, hoef ons nie te sê: “God het besluit dat hierdie kind moet sterf” nie. Wanneer iemand deur die geweld van ’n ander mens vernietig word, hoef ons nie te sê: “God het hierdie daad beskik” nie. Wanneer ’n oorlog uitbreek en onskuldige mense sterf, kan ons nie sê: “Dit was God se plan” nie. Die Bybel gee ons ruimte om te sê dat die wêreld gebroke is, dat kwaad werklik is, dat daar bose mense is wat dink oorlog is die antwoord op alles, dat mense werklik verkeerde keuses maak en dat die skepping nie meer is soos God dit oorspronklik bedoel het nie. 10. Dit bring ons terug na Genesis. Die verhaal van die sondeval gaan oor baie meer as net Adam en Eva wat van die verkeerde vrug geëet het. Dit vertel van ’n skepping waarin die verhouding tussen God en mens gebreek word en waarin die gevolge van daardie breuk wyd versprei. Sonde bring gebrokenheid. Verhoudings word gebreek. Mense maak mekaar seer. Die skepping word aan verganklikheid onderwerp. Siekte, pyn en dood word deel van die menslike ervaring. Paulus beskryf dit in Romeine 8 as ’n skepping wat sug en uitsien na verlossing. 11. Dit beteken nie dat ons elke individuele tragedie kan verklaar nie. Inteendeel, dit beteken dat ons soms eerlik genoeg moet wees om te sê: “Ek weet nie.” Dit is vir ons moeilik, want ons leef in ’n wêreld waarin ons gewoond geraak het daaraan dat daar vir byna elke vraag ’n antwoord behoort te wees. Ons soek inligting, raadpleeg deskundiges, lees boeke, GOOGLE en probeer alles verstaan. Maar wanneer ons by die diepste vrae oor lyding kom, ontdek ons dat kennis nie altyd ’n verduideliking kan gee wat ons pyn oplos nie. 12. Miskien is dit een van die belangrikste lesse uit Job. Job kry nie die antwoord waarvoor hy vra nie. God kom uiteindelik na Job toe, maar Hy gee nie vir hom ’n volledige verduideliking van elke gebeurtenis wat plaasgevind het nie. God openbaar Homself eerder aan Job. Job ontdek nie noodwendig al die antwoorde nie; hy ontdek God op ’n dieper manier. En miskien is dit waar ons dikwels die fout maak. Ons vra vir God: “Waarom?” en verwag dat Hy vir ons ’n verduideliking moet gee. Maar soms gee God nie vir ons ’n verduideliking nie; Hy gee vir ons Homself. 13. Dit is presies wat ons in Jesus sien. Wanneer ons oor lyding praat, is die regte Christelike antwoord uiteindelik nie bloot ’n teorie nie. Dit is ’n Persoon. Ons wil weet waarom God nie lyding keer nie, maar die evangelie wys vir ons ’n God wat self die lydende wêreld binnekom. In Jesus word God nie ’n verre toeskouer van menslike pyn nie. Hy kom tussen mense in. Hy raak aan siekes. Hy huil saam met mense wat rou. Hy ervaar verwerping. Hy word verneder. Hy ly. Hy word gekruisig. 14. Dink aan Johannes 11. Lasarus is dood. Marta is teleurgesteld. Maria huil. Die mense rondom haar huil. Jesus weet reeds wat gaan gebeur. Hy weet dat Lasarus uit die dood opgewek gaan word. Tog lees ons daardie eenvoudige, aangrypende woorde: “Jesus het gehuil.” Waarom huil Jesus as Hy weet dat die verhaal binne ’n paar oomblikke gaan verander? Omdat God se reaksie op menslike lyding nie koud of vanaf ‘n afstand nie. Jesus staan binne die pyn. Hy voel die gebrokenheid. Hy huil saam met hulle. 15. Dit beteken dat ons nie ’n God aanbid wat van ’n veilige afstand af kyk hoe mense ly nie. Die kruis is die grootste bewys daarvan. Aan die kruis sien ons nie ’n God wat sê: “Ek verstaan nie julle lyding” nie. Ons sien ’n God wat self die diepste vorm van menslike verwerping, pyn en verlatenheid dra. 16. Daarom is ‘n Christelike antwoord op lyding nie altyd ’n verduideliking nie. Soms is dit ’n teenwoordigheid. Ons kan dalk nie vir iemand sê waarom sy kind gesterf het nie. Ons kan nie altyd verduidelik waarom kanker ’n sekere persoon tref nie. Ons kan nie altyd verduidelik waarom ’n huwelik verbrokkel of waarom ’n ongeluk plaasgevind het nie. Maar ons kan sê: “Ek weet nie waarom dit gebeur het nie, maar ek weet dat jy nie alleen is nie.” 17. Dit behoort ook te verander hoe ons as gelowiges met mense omgaan wat ly. Soms dink ons dat ons vir iemand ’n teologiese antwoord moet gee. Ons voel ongemaklik met stilte. Ons wil iets sê wat die situasie verklaar. Maar Job se vriende leer ons dat verkeerde woorde soms meer skade kan doen as stilte. Miskien is daar tye wanneer die mees Christelike ding wat ons kan doen, nie is om ’n verduideliking te gee nie, maar om teenwoordig te wees. Om langs iemand te sit. Om saam te huil. Om ’n hand vas te hou. Om kos te bring. Om te bid wanneer die ander persoon nie meer woorde het nie. Om eenvoudig te sê: “Ek verstaan nie waarom dit gebeur het nie, maar ek sal saam met jou hierdeur stap.” 18. Dit is ook waarom ons versigtig moet wees wanneer ons sê: “Alles gebeur met ’n doel.” Dit klink baie geestelik, maar dit kan ongelooflik hard land in die ore van iemand wie se kind sopas verkrag is. Ons weet nie altyd wat God se doel met ’n bepaalde gebeurtenis is nie. Ons weet nie eens of God altyd ‘n doel met alles het nie! Ons moet nie God se geheime raad aan iemand voorhou asof ons dit ken nie. Ons kan eerder vashou aan wat ons wel weet: God is goed, God is liefdevol, God het Homself in Christus aan ons geopenbaar, God verlaat sy kinders nie en God belowe dat die dood en lyding nie die finale woord sal hê nie. 19. Dit is belangrik om ook te besef dat die Bybel nooit belowe dat goeie mense ’n probleemvrye lewe sal hê nie. Jesus het nie vir sy volgelinge belowe dat hulle nooit siek sal word, nooit verlies sal ervaar of nooit sal huil nie. Hy het iets anders belowe: dat Hy met hulle sal wees. Dit is ’n baie belangrike verskil. Ons geloof is nie die versekering dat slegte dinge nooit met ons sal gebeur nie. Ons geloof is die vertroue dat wanneer slegte dinge gebeur, God ons nie sal verlaat nie. 20. Dit verander ook ons begrip van geloof. As ek glo dat God my sal beskerm teen elke slegte ding omdat ek Hom dien, dan sal my geloof ineenstort wanneer iets slegs gebeur. Maar as my geloof gebou is op die karakter van God, kan ek selfs in die donkerste tye sê: “Ek verstaan nie, maar ek weet wie U is.” Ek weet nie waarom nie, maar ek weet dat U goed is. Ek weet nie hoe dit gaan eindig nie, maar ek weet dat U my nie verlaat nie. Ek verstaan nie hierdie pad nie, maar ek weet dat ek dit nie alleen hoef te loop nie. 21. En uiteindelik kom ons by die groot hoop van die evangelie. Die Christelike hoop is nie dat ons eendag elke tragedie sal kan verduidelik nie. Die Christelike hoop is dat God uiteindelik alles sal herstel. Romeine 8 praat van ’n skepping wat sug en wag op bevryding. Openbaring eindig met ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Daar is ’n dag wanneer God by sy mense sal woon en wanneer die dood nie meer sal wees nie. Daar sal nie meer rou, smart of pyn wees nie. God sal elke traan van ons oë afvee. 22. Miskien is dit die belangrikste ding wat ons moet onthou wanneer ons met lyding gekonfronteer word: ons hoef nie alles te verstaan om God te vertrou nie. Ons hoef nie elke gebeurtenis te kan verklaar om te weet dat God goed is nie. Ons hoef nie die hele pad te kan sien om die volgende tree saam met Hom te neem nie. Daarom hoef ons nie vandag al die antwoorde te hê nie. Job het nie al die antwoorde gehad nie. 23. Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? Die Bybel gee ons nie een eenvoudige antwoord wat elke vorm van lyding verklaar nie. Soms is lyding die gevolg van menslike keuses. Soms is dit die gevolg van ’n gebroke wêreld. Soms tref siekte en dood mense sonder dat ons ’n rede kan identifiseer. Soms weet ons eenvoudig nie. En ons moet nederig genoeg wees om dit te erken. 24. Maar die evangelie gee ons iets wat uiteindelik groter is as ’n verklaring. Dit gee ons Jesus Christus. Hy is die God wat nie van ’n afstand af na ons pyn kyk nie. Hy is die God wat ons pyn binnekom. Wat saam met ons huil. Wat die kruis gedra het. Hy is die God wat die dood oorwin het. En Hy is die God wat belowe dat die gebrokenheid van hierdie wêreld nie die finale woord sal hê nie. 25. Wanneer ons dus voor lyding staan, hoef ons nie altyd te sê: “Ek weet waarom God dit laat gebeur het” nie. Soms is die mees eerlike en geloofwaardige antwoord: “Ek weet nie.” Maar ons kan daarna sê: “Ek weet wel Wie saam met my deur hierdie donkerte gaan.” 26. Dit is die hart van ons hoop. Ons verstaan dalk nie altyd waarom sekere dinge gebeur nie, maar ons weet wie God is. Ons weet dit omdat ons Hom in Jesus Christus gesien het. En wanneer ons Hom ken, kan ons selfs deur die donkerste dal stap sonder om alleen te wees. Want die antwoord op lyding is nie altyd ’n verduideliking nie. Soms is die antwoord ’n Teenwoordigheid. En daardie Teenwoordigheid het ’n Naam: Jesus Christus.