Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Genesis 1:1-2:4 – Die geheim le nie waar jy dink nie 1. Soos ek verlede week genoem het, was daar 'n versoek dat ons 'n diens aan die skepping moet wy. Dit bring ons by 'n belangrike vraag: Hoe moet ons die skepping in die Skrif verstaan? EN dis natuurlik NB dat wanneer die Bybel oor ‘n bepaalde onderwerp praat, moet ons seker maak dat ons nie net een vers of een hoofstuk lees en dan dink dat ons die hele Bybelse boodskap verstaan nie. Een van die grootste gevare wanneer ons die Bybel lees, is dat ons 'n gedeelte uit sy groter verband haal en dan aanvaar dat dit alles is wat die Skrif oor die onderwerp te sê het. 2. Wanneer ons oor die skepping praat, gaan ons gewoonlik dadelik na Genesis 1. Ons lees hoe God die hemel en die aarde geskep het, hoe Hy lig van duisternis geskei het, hoe Hy die waters en die droë grond van mekaar geskei het en hoe Hy plante, diere en uiteindelik die mens geskep het. Maar is Genesis 1 al wat die Bybel oor die skepping sê? Beslis nie! Ons het ook Genesis 2, Job 38, Psalm 74, Psalm 104 en Johannes 1, om maar 'n paar voorbeelde te noem. Oral in die Skrif kry ons beskrywings van God se skeppingswerk. As ons net by een hoofstuk vassteek, loop ons die gevaar om 'n veel ryker boodskap mis te kyk. 3. Maar kom ons begin by 'n vraag wat ons almal waarskynlik al gevra het: Hoe het God alles geskep? Ons het dikwels die idee dat God bloot deur 'n woord alles uit niks geskep het. Ons dink aan Genesis 1:3: “Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” Ons neem dan aan dat alles presies op dieselfde manier gebeur het. God het gepraat, en alles het tot stand gekom. Wanneer ons egter die hoofstuk aandagtig lees, ontdek ons dat die beskrywings meer uiteenlopend is. God maak dinge. Hy vorm dinge. Hy skei dinge van mekaar. Hy beveel die aarde om plante voort te bring. Daar is gedeeltes waar God beveel en daarna self optree. Die Bybel gebruik dus verskillende beelde om oor God se skeppingswerk te praat. 4. Dieselfde verskeidenheid vind ons wanneer ons die res van die Skrif lees. Psalm 33:6 sê dat die Here die hemele met ‘n woord gemaak het. Psalm 102:26 se egter weer dat God die hemele met sy hande gemaak het. In Jesaja 48:13 sê : “Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.” Die Skrif gebruik dus verskillende maniere om die grootheid en mag van God se skeppingswerk te beskryf. 5. Die punt is nie dat ons nie oor die skepping mag nadink of vrae mag vra nie. Die punt is dat ons versigtig moet wees om die hele Bybelse boodskap net tot een enkele hoofstuk van die skeppingsproses te beperk. Ons moet ook vra waarom die Bybel hierdie verhale aan ons vertel en wat hulle vir die eerste hoorders beteken het. 6. Om hierdie vrae te verstaan, moet ons eers ‘n groot misverstand uit die weg ruim: Ons lees baie keer die Bybel met die wanpersepsie dat Genesis die oudste boek in die Bybel is. En dis ver van die waarheid af. Goeie navorsing het getoon dat die eerste vyf boeke nie as eenhede deur een persoon geskryf is nie. Die boeke is saamgestel uit kleiner dokumente wat oor lang tydperke geskryf is, of liewer gegroei het. Op stadiums het “redakteurs” hierdie korter dokumente in groter eenhede saamgevoeg, en later, waarskynlik eers omtrent in Dawid se tyd, is “boeke” gevorm. En selfs daarna is nog weer aan dele van hierdie boeke gewerk, sodat dit goed blyk dat ’n hoofstuk soos Genesis 1 eers tydens die Babiloniese ballingskap in 537 vC sy finale vorm gekry het. 7. As voorbeeld van kleiner dokumente wat oorspronklik afsonderlik bestaan het, kan ’n mens net kyk na Genesis 1 en Genesis 2. Beide handel oor die skepping van alle dinge, maar daar is groot verskille tussen hulle. Dit is sonder meer duidelik dat twee verskillende skrywers twee verskillende voorstellings van God se skeppingswerk beskryf. Die feit dat twee weergawes wat soveel verskil, uiteindelik in dieselfde boek opgeneem is, het groot betekenis vir ons verstaan van die skepping. 8. Daarom moet ons nou 'n tree terugstaan en 'n belangriker vraagvra: Waarom was die skeppingsverhaal so belangrik vir Israel? Waarom moes hierdie volk hoor dat God die Skepper van hemel en aarde is? En wat het hierdie boodskap beteken vir mense wat hulle land, hulle stad, hulle tempel en hulle vryheid verloor het? 9. Wat was die doel daarvan was om vir Israel die verhaal van die skepping neer te pen terwyl hulle in ballingskap was? Wel, daar is ‘n baie belangrike rede hiervoor. Jerusalem is verwoes, die tempel is afgebreek en baie van die volk is na Babel weggevoer. Alles wat vir hulle bekend en veilig was, het in duie gestort. Die tempel was die plek waar hulle God aanbid het. Jerusalem was die stad waarmee hulle hulle geloof en identiteit verbind het. Nou sit hulle egter in 'n vreemde land, ver van hulle tuiste, omring deur mense wat ander gode aanbid. 10. Probeer jou vir 'n oomblik in hulle posisie indink. Jy het jou land verloor. Jou stad lê in puin. Die plek waar jy God aanbid het, is verwoes. En elke dag hoor jy hoe die mense rondom jou vertel dat hulle gode sterker as jou God is. Hulle het die oorlog gewen. Hulle het jou volk oorwin. Dit lyk asof hulle gode die oorwinning behaal het en jou God verslaan is. 11. Wat sou jy geglo het as jy daar was? Sou jy nie dalk begin wonder het of jou God jou verlaat het nie? Sou jy nie gewonder het of die gode van Babel dalk werklik sterker was nie? Dit was die wêreld waarin Israel moes leef. Die Babiloniërs het geglo dat hulle gode, veral Marduk, verantwoordelik was vir die skepping en die orde van die wêreld. Hulle het jaarliks feeste gehou waarin Marduk se mag en oorwinning gevier is. Vir Israel, wat in ballingskap geleef het, moes hierdie feeste 'n pynlike herinnering gewees het aan hulle eie nederlaag. Hulle moes toekyk hoe die oorwinnaars hulle gode vereer en hulle eie oorwinning oor Israel as bewys van hulle gode se mag beskou. 12. Dit is juis in hierdie omstandighede dat die boodskap van die skepping besondere betekenis kry. Israel moes weer hoor wie hulle God is. Hulle moes verstaan dat die God wat hulle aanbid, nie 'n klein god is wat slegs binne die grense van Jerusalem kan werk nie. Hy is nie 'n god wat deur die oorwinning van 'n ander volk uitgewis kan word nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde. 13. Dink net aan die verskil tussen wat Babel verkondig het en wat Israel moes bely. Babel het gesê: “Kyk na ons oorwinning. Ons gode is magtig. Ons het julle verslaan.” Die skeppingsverhaal herinner Israel egter: “Julle moenie julle God aan julle huidige omstandighede meet nie. Die God wat julle aanbid, is die Skepper van alles.” 14. En dit is waarom ons moet verstaan dat die skeppingsverhaal nie 'n beskrywing van die ontstaan van die wêreld is nie. Dis nie ‘n boodskap wat enigsins iets vir Israel in hulle omstandighede sou beteken het nie. Die skeppingsverhaal het verkondig WIE die Skepper is, wat sy mag beteken en waarom sy volk op Hom kan vertrou. Die belangrikste vraag vir Israel was nie bloot hoe alles ontstaan het nie. Hulle moes hoor wie die God is aan wie hulle behoort, selfs wanneer hulle omstandighede hulle laat twyfel het. 15. Daar is nog 'n interessante aspek van Genesis 1. Die verhaal beskryf hoe God orde bring deur dinge van mekaar te skei. Hy skei lig van duisternis, die waters bo die gewelf van die waters daaronder, en die waters van die droë grond. Hy stel grense en bring onderskeid waar daar andersins chaos en bedreiging kon wees. 16. Ons moet hierdie beskrywings verstaan teen die agtergrond van die wêreldbeeld van die mense van daardie tyd. In verskeie gedeeltes van die Ou Testament word die see voorgestel as 'n mag wat dreig om die aarde te oorweldig. Ons lees in Job, die Psalms en ander gedeeltes hoe God grense aan die see stel. Die waters kan nie sommer maak wat hulle wil nie. God is groter as die magte wat vir mense reesaanjaend is. 17. Vir mense wat in 'n wêreld vol onsekerheid geleef het, was dit 'n belangrike boodskap. Die wêreld is nie oorgelewer aan magte wat buite God se beheer funksioneer nie. Die Skepper bring orde en stel grense. Hy laat nie toe dat chaos die laaste woord spreek nie. 18. Ons sien iets soortgelyks wanneer ons na die ligte in Genesis 1 kyk. In Babilonie is die son en die maan juis as goddelike magte vereer. Maar in Genesis 1 word hulle eenvoudig as ligte beskryf wat God gemaak het om lig te gee en die tye te onderskei. Hulle is nie gode wat aanbid moet word nie. Hulle is deel van God se skepping en staan onder sy gesag. 19. Wat 'n belangrike boodskap moes dit vir Israel gewees het! Die gode van Babel was nie die magte wat oor die heelal geheers het nie. Die son en die maan was nie gode wat God se mag kon ewenaar nie. Alles wat bestaan, staan onder die gesag van die Skepper. 20. Daarom moet ons ook versigtig wees wanneer ons vra wat die skeppingsverhaal vir ons wil leer. Die doel is nie om elke vraag oor die ontstaan van die wêreld in 'n paar verse af te handel nie. Die Bybel gee ons verskillende beskrywings van God se skeppingswerk, maar deur hierdie beskrywings heen word 'n belangrike waarheid verkondig: God is die Skepper, en geen ander mag kan sy plek inneem nie. 21. Dit is opvallend dat God se naam so dikwels in Genesis 1 voorkom. In die 31 verse van die hoofstuk vind ons 30 keer ‘n verwysing na God. Hy word herhaaldelik as die Een voorgestel wat spreek, maak, skei, benoem en seën. Die skeppingsverhaal gaan nie oor HOE alles gebeur het nie. Die hele verhaal vestig ons aandag op Hom. Dit wys na die Skepper. 22. Ons kan dit só stel: Genesis 1 het nie bloot 'n skeppingsboodskap nie; dit het, soos die hele Skrif, 'n SKEPPERboodskap. Dit verkondig dat die wêreld nie deur die gode van Babel regeer word nie, maar dat die God van Israel die Skepper van alles is. En dit is juis hierdie waarheid wat Israel in hulle ballingskap moes hoor. 23. Ons leef nie in die Babiloniese ballingskap nie. Ons woon nie tussen mense wat jaarliks feeste vir Marduk vier nie. Tog ken ons die ervaring dat ons wêreld in duie kan stort. Ons ken verlies, teleurstelling, onsekerheid en tye waarin ons nie verstaan wat God doen nie. Soms bid ons, maar die omstandighede verander nie. Soms probeer ons getrou leef, maar dinge loop nie uit soos ons gehoop het nie. Soms lyk dit asof die dinge waarop ons ons vertroue gebou het, onder ons verdwyn. 24. Wat gebeur wanneer jy in so 'n situasie beland? Wanneer jy nie meer die sekerheid het wat jy voorheen gehad het nie? Wanneer dit lyk asof die omstandighede harder praat as jou geloof? Dis die omstandighede wat Israel beleef het toe die skeppingsverhaal na hulle toe gekom het. 25. Israel se verhaal herinner ons daaraan dat ons nie God se identiteit en mag bloot aan ons huidige omstandighede moet meet nie. Die feit dat Israel in Babel was, het nie beteken dat die God van Israel opgehou het om die Skepper te wees nie. Die feit dat Jerusalem verwoes was, het nie beteken dat God se mag tot 'n einde gekom het nie. Die oorwinning van Babel het nie die laaste woord oor God gehad nie. 26. Dit beteken nie dat God altyd ons probleme op die manier sal oplos waarop ons hoop nie. Dit beteken ook nie dat gelowiges nooit deur pyn, verlies of teleurstelling sal gaan nie. Israel het immers werklik in ballingskap gely. Maar die boodskap van die skepping herinner ons dat God nie deur ons swaarkry uitgewis word nie. Ons omstandighede is nie die finale maatstaf van wie Hy is nie. 27. Gemeente, kom ons dink weer aan Israel in Babel. Hulle het hulle land verloor. Hulle het hulle stad verloor. Hulle het hulle tempel verloor. Hulle het hulle vryheid verloor. Maar hulle moes weer hoor wie hulle God is. Babel kon hulle stad verwoes, maar Babel se oorwinning het nie beteken dat Israel se God opgehou het om God te wees nie. 28. Daarom is die belangrikste vraag nie wat ons oor die skepping glo nie. Die belangrikste vraag is wat ons oor die Skepper glo wanneer ons eie wêreld nie meer sin maak nie. Wanneer jou planne misluk, wanneer jou sekerhede verdwyn en wanneer jy nie verstaan wat God doen nie, weet jy nog wie Hy is? Dis die boodskap wat die skeppingsverhaal vir Israel in ballingskap moes bring. 29. Die skeppingsverhaal herinner ons dat God nie net aan die begin van alles staan nie. Dit verkondig ook sy gesag oor die skepping en herinner sy volk aan die Een op wie hulle kan vertrou. Die God wat Israel in Babel moes leer ken as die Skepper van hemel en aarde, is die God wat hulle nie aan die mag van Babel hoef oor te laat nie. 30. Mag ons daarom nie so vasgevang raak in vrae oor hoe alles ontstaan het dat ons die groter boodskap mis nie. Die doel was nie om vir ons te se HOE alles gebeur het nie, maar WIE vir alles verantwoordelik was. En wanneer ons eie wêreld begin wankel, gaan lees gerus weer die skeppingsverhale in Gen 1 & 2 en andere. Dan besef jy net weer opnuut dat ons geloof rus op die God wat ons aanbid. Die Skepper en Onderhouer van alles. Ons het nie altyd antwoorde op al ons vrae nie. Ook nie HOE die heelal onstaan het nie. Maar ons kan steeds bely wie Hy is. Die wêreld waarin ons leef, kan verander. Ons omstandighede kan verander. Ons sekerhede kan verdwyn. Maar ons moet God nie meet aan die chaos rondom ons nie. Lees Gen 1 en onthou wie die Skepper is.